ToekomsVenster: ʼn Lewensverbintenis aan God


prys-die-here

Foto: LoveToTakePhotos/Pixabay.com

Ek wil die Here prys so lank ek lewe, ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is. – Psalm 146:2

Is dit nie ʼn wonderlike voorneme nie. Ons lees hier van ʼn lewensverbintenis aan God. Dit getuig van iemand wat sy skeppingsdoel ontdek en verstaan. Ons bestaan tog ter wille van God wat ons geskep het, ons die lewensasem geskenk het, Homself aan ons verbind het, ons uit die stof van die aarde geformeer het. Dit gaan oor ʼn verbondsverbintenis bevestig in die doop. Hierdie God is my God. Dis opmerklik hoe dikwels die digter praat van my God. Dit dui op ʼn baie persoonlike verhouding. Dis ʼn kommunikatiewe verbintenis, deur dialoog.

Om God te loof is om sy heerskappy en gesag te vier. Dis om God Drie-enig te vier. Dis om in totale verwondering voor die Verwonde te staan. Dis om die deurboorde hande vas te gryp en te koester, om die Skeppergod te loof vir sy handwerk, om die Heilige Gees te vertrou. So lank as wat ek lewe en daar is.

Uiteraard leef die digter met sy eie verstaan van die lewe en die lewe ná die dood. Ons leef vanuit die groot waarheid in 1 Korintiërs 15. Wat skeiding gemaak het, is uit die weg geruim. Wat ons vergiftig het, is geneutraliseer. Wat potensieel die dood kon veroorsaak, is in sy offer aan die kruis opgeneem. Die angel van die dood is die sonde. Daar is nou geen veroordeling vir hulle wat in Christus Jesus is nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hamnelie ·

Baie dankie. Ek is weereens bewus van God van eenvoud en egtheid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.