ToekomsVenster: ’n Metafoor vir die Vader se teenwoordigheid

(Foto: Edurne Chopeitia/Unsplash)

“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” – Handelinge 1:8

Tydens Jesus se Hemelvaart word Hy deur ’n wolk omring. Die wolk is ’n metafoor vir die teenwoordigheid van die Vader.

Jesus word as’t ware deur die Vader verwelkom en terug ontvang in die hemelhuis. Tien dae later word die Heilige Gees kragtig uitgestort toe die dissipels eendragtig daarop wag.

God word deur verskillende metafore bekendgestel. Tydens die Hemelvaart, soos deur die teks aangedui, deur ’n wolk.

  • Later het dit so gegaan: wanneer die wolk van die tabernakel af voor die Israeliete uit wegtrek, het hulle agter die wolk aan versit. – Eksodus 40:36
  • Terwyl Moses die berg uitklim, het ‘n wolk dit omhul. – Eksodus 24:15
  • Die magtige teenwoordigheid van die Here het op Sinai berg gebly, en ses dae het die wolk die berg omhul. Op die sewende dag het die Here uit die wolk uit na Moses geroep. – Eksodus 24:16
  • So was dit deurentyd. Die wolk het die tabernakel oordek en snags was dit soos vuur. – Numeri 9:16
  • En dan sal hulle die Seun van die mens met groot krag en majesteit op ‘n wolk sien kom. – Lukas 21:27

Op die berg van verheerliking manifesteer God Homself eweneens deur die teenwoordigheid van ’n wolk:

Terwyl hy nog praat, kom daar ‘n wolk en gooi sy skaduwee oor hulle, en toe die wolk hulle insluit, het die dissipels bang geword. – Lukas 9:34

Dan met betrekking tot die wederkoms:

En dan sal hulle die Seun van die mens met groot krag en majesteit op ‘n wolk sien kom. – Lukas 21:27

Miskien sal wolke vir ons nuwe betekenis kry? Mag elke wolk iets van God se teenwoordigheid in jou lewe simboliseer.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.