ToekomsVenster: ’n Nuwe hart en gees

(Foto: Elias Maurer/Unsplash)

Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die klip hart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom. – Esegiël 36:26-27

Die klip hart in my, dit is die probleem en om voortdurend daarmee te reken dat God my ʼn ander hart gegee het. Die uitdaging om daardie hart te laat praat, die pas aan te gee en my by God se bestemming uit te bring.

Menslike voornemens, hoe eerlik ook al bedoel, kan dit nie doen nie. Dit is soos Nuwejaarswense wat teen die derde dag van die nuwe jaar reeds ʼn vae herinnering is.

My bedoeling is goed en my planne in plek maar God is nie deel daarvan nie. Dan loop dinge erg skeef en word ek ontmoedig en ontwrig en maak myself dit wys dat nie help om God te vertrou nie maar intussen het ek dit nie gedoen nie.

In die Gereformeerde teologie waar my wortels lê is God in alles die Inisiatiefnemer. Die Bybel se immers niemand vra na God nie. As ek na Hom vra is dit omdat Hy die vraag in my hart en op my lippe geskryf het.

In myself is ek meer as tevrede met die lewe en wat dit bring. Ek is arm, weet dit en is daarmee tevrede. Ek bestaan, maar lewe nie. My hart klop maar dit hou my net aan die lewe, niks meer nie.

Dan skielik word ek bewus van ʼn ongemak in my eie hart. Ek kom tot die oortuiging dat daar meer in die lewe moet wees as dit wat ek beloof. Ek begin vra na die sin en betekenis van alles. ʼn Gevoel van ontevredenheid begin by my groei. Ek verstaan dit nie heeltemal nie maar iets krap hierbinne.

Op ʼn dag sit ek onder die geklank van God se Woord, ek luister na ʼn lied, ek sien die natuur, ek staan by ʼn siekbed of ʼn graf, ek gesels met iemand, en skielik word ek bewus van ʼn dimensie wat tot onlangs toe nog nie bestaan het nie.

  • Vrae wel by my op, en die vrae los my nie.
  • Waaroor gaan dit dan in die lewe, wat is die sin van my bestaan.
  • Hoekom is ek hier en waarmee moet ek besig wees.
  • Waarom bring die plesierplekke en dinge nie meer dieselfde opwinding as in die verlede nie.
  • Waarom raak ek uitgekuier met die geselskap, die praatjies en die grappies van my vriende.

Die trane lê vlak, ek word bewus van ʼn sagtheid wat ongewoon is. Ek sien ander se nood raak en begin skielik omgee daarvoor. Ander mense maak opmerkings oor my vreemde gedrag.

Wat is aan die gebeur? Die Gees is met my besig. Goddank, Hy het ʼn plan met my lewe en dit begin met die nuwe hart.

Ek breek in berou voor sy Goddelike majesteit en bely my sonde. Ek aanvaar sy vergifnis en dank Hom vir sy genade. Daar groei ʼn honger en dors van die Waarheid. Die Bybel gaan vir my oop. Ek lees dit, leer daaruit en neem dit met my saam op my lewensreis.

Ek ervaar die inspraak van ʼn stem wat my optrede rig. Die Bybel noem die stem die Heilige Gees. Dinge sal nooit weer dieselfde wees nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here U liefde en genade omvou my…elke dag is dit nuut

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.