ToekomsVenster: ʼn Nuwe lied!

trompetspeler-musiek

Foto: StockSnap/Pixabay.com

Lees: Openbaring 5:8-14:

“8 Net toe die Lam die boek neem, het die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor Hom gekniel. Elkeen van hulle het ‘n siter gehad en ‘n goue bak vol wierook, die gebede van die gelowiges. 9 Toe sing hulle ‘n nuwe lied: “U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. 10 U het hulle ‘n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer.” 11 Toe het ek rondom die troon en die lewende wesens en die ouderlinge ‘n groot menigte engele gesien. Daar was duisende der duisende, ja, miljoene der miljoene. Ek het hulle hard hoor 12 uitroep: “Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.” 13 Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê: “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid.” 14 Die vier lewende wesens het gesê: “Amen!” En die ouderlinge het gekniel en God aanbid.”

Teen al die lawaai om ons in, teen al die wanklanke in die samelewing, wil ons ’n nuwe lied sing; ’n lied van vergifnis en vrede, van genesing en versoening. Ons glo dat die engele in die hemel saam met ons sing: Die Lam is waardig om die seëls oop te maak – om ook die hede en die verlede en die toekoms van ons land in Sy hand te neem, “omdat U geslag is en ons met u bloed losgekoop het uit elke stam en taal en nasie. U het ons ’n koninkryk en priesters vir ons God gemaak…” (Op. 5:9-10)

Gebed:

Saam met die nuwe lied op ons lippe, wil ons ook vandag die gebed van ons harte, die gebed van Franciscus van Assissi, op ons lippe neem:

O Here, maak my ’n instrument van u vrede.
Waar daar haat is, laat my liefde saai,
Waar daar onreg is, vergifnis;
Waar daar twyfel is, geloof;

Waar daar wanhoop is, hoop,
Waar daar duisternis is, lig,
Waar daar droefheid is, vreugde.

O Goddelike Meester,
gee dat ek nie soseer sal vra om vertroos te word nie,
maar om te vertroos;
om verstaan te word nie, maar om te verstaan;
om liefgehê te word nie, maar om lief te hê.

Want dit is deur te gee, dat ons ontvang.
Dit is deur te vergewe dat ons vergewe word.
En dit is deur te sterwe
Dat ons vir die ewige lewe gebore word.

Leefstyl:

Daar is mense in ons land wie se lewens ʼn lied tot eer van die Here is. Sing jy saam in die koor?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.