ToekomsVenster: ’n Nuwe mens

(Foto: Juanita Badenhorst)

Die wet wat in letters op klip gegraveer is, het in heerlikheid gekom. Hierdie heerlikheid, wat tog gou sou verdwyn, het op die gesig van Moses so geskitter dat die Israeliete nie na hom kon bly kyk nie. As die bediening wat tot die dood lei, met soveel heerlikheid gekom het, hoeveel groter sal die heerlikheid van die bediening wat deur die Gees geskied, dan nie wees nie? Omdat ons hoop hierop gevestig is, tree ons met groot vrymoedigheid op. Ons is nie soos Moses wat sy gesig met ‘n sluier toegemaak het nie. Dit moes hy doen om te verhinder dat die volk van Israel sou sien dat die ligglans aan die verdwyn was. – 2 Kor.3:7-8 en vers 13

Paulus verwys in die voorafgaande vers na die “nuwe verbond”. As daar van ʼn nuwe een sprake is, moes daar ʼn oue gewees het, wat verjaar, verbygegaan het of opgehef is. Twee verbonde kan nie naas mekaar bestaan nie.

Die nuwe is radikaal en bevrydend nuut.

Die oue het mense terdeë bewus gemaak van hul eie gebrokenheid en sondigheid. Dit het hulle egter in ʼn lugleegte gelaat.

Die probleem is duidelik beskrywe, die mens se kliphard. Die oplossing is egter nie aangebied nie.

Dit het mense reikhalsend laat verlang na ʼn nuwe bedeling. Dit is soos mense wat tot die dood toe dors is en nie kan wag om by ʼn waterstroom uit te kom nie. Die stroom is Jesus en sy herskeppende werk. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. (2 Kor. 5:17)

Toe Moses die tien gebooie reg aan die begin van Israel se bevryding uit Egipte op die berg Sinai ontvang, het sy gesig geskitter toe hy van die berg afkom, soveel so dat hy sy gesig moes bedek omdat die mense nie na hom kon kyk nie. Dit het gebeur met ʼn wet wat op klip tafels gegraveer was. Paulus verwys daarna met die woord “heerlikheid”.

Die tien gebooie het egter soos reeds aangedui mense met hul skuld konfronteer maar niks meer aangebied as ʼn belofte dat daar eendag volhoubare uitkoms sou kom nie.

Dit beteken hoegenaamd nie dat die wet minderwaardig was nie. Dit beteken nie dat die wet soos in die tien gebooie opgeskryf nie meer geld nie. Dit beteken net dat die nuwe verbond, ook die genade verbond genoem, aan mense die oplossing vir hul dilemma met die sonde kom bied het.

Die wet word nou op die tafels van mense se harte geskryf. Splinternuut soos die aangehaalde teks sê.

Jy is ʼn nuwe mens. Leef vandag en elke dag nuut.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.