ToekomsVenster: ’n Nuwe rigting

Van Jakobus, ‘n dienaar van God en die Here Jesus Christus. Aan die twaalf stamme wat oor die wêreld versprei is. – Jakobus 1:1

kruis-pers-sonsondergang

Foto: Aaron Burden/Unsplash.com

Jakobus is hiervolgens die skrywer van die brief. Dit word allerweë aanvaar dat hierdie Jakobus die broer van Jesus was. Alhoewel hy nie aanvanklik in Jesus geglo het nie het hy ʼn lewensveranderende ontmoeting gehad (Jesus het aan Jakobus verskyn na sy opstanding) en het sy lewe ʼn radikaal nuwe rigting ingeslaan.

Hy is een van die 120 wat die vervulling met die Heilige Gees op Pinksterdag beleef. Jakobus was ʼn leier in die nuwe Testamentiese kerk en lewer deur hierdie skrywe ʼn beduidende bydrae in die vorming van gelowiges se geloofslewe. Die brief word aan die Jode in verstrooiing gerig. Dit verwys na Joodse Christene wat vanweë ʼn verskeidenheid faktore, sommige ekonomies en ander polities, oor die destyds bekende wêreld verstrooi is. Hy skrywe die brief om hulle te bemoedig te midde van vele uitdagings en veral op te roep tot ʼn lewe van integriteit, belydenis en lewe wat mekaar komplimenteer.

Hy stel homself as ʼn dienaar van Jesus bekend en roem nie in sy familie verbintenis nie.

Uiteraard is die brief ewe gesagsvol vir ons as nuwe Testamentiese gelowiges. Ook ons beleef ʼn stuk vervreemding in hierdie wêreld. In ʼn sin is hierdie wêreld nie ons woning nie. Ons is op pad na ons finale bestemming in die teenwoordigheid van God drie-enig. Die lewe aan hierdie kant van die ewigheid het sy kwota versoekings, beproewings en hartseer. Geloof beteken om dit wat jy glo en bely, daadwerklik uit te leef.

Jakobus bou op die bergrede wat aan ons baie bekend is en maak ook gebruik van materiaal uit die Spreuke bundel. Wees op die uitkyk daarvoor as ons deur die boek lees.

In oordragtelike sin is ons ook lewende briewe wat deur almal gelees kan word. Mag die wêreld ons ken en beleef as dienaars van die lewende Here deurdat ons oggend- en aandpraatjies ooreenstem en ons nie deur ons lewe en optrede die krag van die Evangelie geweld aandoen nie. Ons is ook broers, familie van Jesus. Hy is die eerste onder baie broers. Ons het een Vader en wil soos Jesus Hom in alles gehoorsaam.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frieda ·

Ek mis die Dominie se stem in die oggend, gaan hy weer praat of is dit nie langer op nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.