ToekomsVenster: ’n Pad van vernedering

(Foto: Thanti Nguyen/Unsplash)

Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyk wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. – Filippense 2:6-8

Hierdie week dink ons ʼn  bietjie na oor die gebeure wat die kruisiging van Jesus vooraf gegaan het. Ons staan stil by die kruis gebeure asook wat daarop gevolg het.

Jesus se koms na die aarde staan in die teken van vernedering. Filippense vertel ons van wat daardie pad behels het. In stede daarvan om soos ʼn Koning in glorie en met vertoon te verskyn, kom Hy in die gestalte van sy eie handwerk, ʼn  mens. God word mens. Wie kan dit bedink en wie kan dit verstaan en tog is dit wat gebeur?

Hierdie mens woon onder sondige onverskillige en moedswillige mense – mense wat die koms van God na die aarde nie na waarde skat nie maar in ongeloof en opstandig reageer. Johannes sê: Hy het na sy eiendom gekom maar hulle het Hom nie ontvang nie omdat duisternis en lig nie goeie maats is nie. Desnieteenstaande loop Jesus die pad. (Joh. 1:11)

Voëls het neste en jakkalse het gate maar die Seun van die mens het nie plek om sy hoof neer te lê nie – ʼn  gepaste en ontstellende opsomming van Jesus se aardse omwandeling. (Matt. 8:20)

Sy dienswerk word met agterdog gade geslaan en dit is juis die mense wat die Skrifte moes interpreteer en Hom moes verwag wat sy vernaamste teëstanders is.

Aan die vooraand van Jesus se kruisiging geniet Hy die Paasmaal met sy dissipels. Een van hulle stap uit daardie hemelse vergadering en pleeg hoogverraad teenoor die Een wat ook sy voete gewas het.

Jesus Christus, Seun van God.

Ek is somtyds ietwat ongemaklik wanneer selfs grootmense van “liewe Jesus” praat.

Dit is nie regtig die Jesus van die Bybel nie.

Het jy al nagedink oor die pad van vernedering wat Hy geloop het?

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.