Toekomsvenster: ’n Ware reisgenoot

vriende-vriendskap-reisgenoot

Foto: Joshua Sazon/Unsplash.com

Besluit gedurende 2019 op ten minste een reisgenoot teenoor wie jy heeltemal eerlik kan wees en wat genoeg omgee om jou tot verantwoording te roep.

Die Spreuke digter spreek hom uit oor die waarde van ʼn vriend.

SPREUKE 17:17 – Op ‘n vriend se liefde kan jy altyd reken; jou broer is daar met die oog op jou nood.
SPREUKE 18:24 – Maats kan jou breek, maar daar kan ook ‘n vriend wees wat nader is as ‘n broer.
PREDIKER 4:9 – Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets.

Ons is nie gemaak vir alleen wees nie.

GENESIS 2:18 – Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”

Dit is eweneens waar van vriendskappe en mentor verhoudings.

SPREUKE 12:26 – Die regverdige laat sy pad vir hom wys deur ‘n vriend; die goddeloses verdwaal op die pad wat hulle self kies.
SPREUKE 24:26 – Iemand wat eerlik antwoord, is ‘n ware vriend.
SPREUKE 27:6 – Op ‘n vriend wat jou seermaak, kan jy reken; iemand wat jou haat, is oordadig met sy soene.

Ons resoneer op mekaar. Ons ervaar ons aangetrokkenheid elke dag. Mense maak ʼn appèl op ons en ons op hulle. Eerlike vriende is belangrik om te groei.

Niemand behoort so alleen te wees dat daar niemand is met wie jy kan praat as die wiele spreekwoordelik afkom nie. Daar moet iemand wees. Daar is iemand as jy net die moeite sal doen om so ʼn verhouding te koester en te versorg.

Jesus het drie dissipels gehad wat nader aan Hom was as die res. Johannes, Petrus en Jakobus. Dit beteken nie dat die ander manne nie belangrik was nie of dat Jesus minder omgegee het vir hulle nie. Inteendeel. Maar Jesus het ʼn kring van vertrouelinge gehad met wie Hy die intieme oomblikke van sy lewe gedeel het.

Dis een van hulle wat bely dat Hy die Christus die Seun van die Lewende God is.

Dis een van hulle wat Hom verraai. In die nag as Hy gevange geneem word.

PSALMS 55:14 – Maar nou is dit jy, ‘n man soos ek, my maat en my goeie vriend.

Dis een van hulle wat die opdrag kry om Jesus se moeder te versorg.

Dis hulle drie wat opgeroep word om te waak en te bid as Jesus angstig smeek dat die beker Hom gespaar sal word.

MARKUS 14:33 – Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!”

Dis hulle wat by die graf aankom nadat die vroue vertel het dat Jesus opgestaan het. Doen moeite om hierdie jaar ʼn binnekring van vertrouelinge in te trek. Wees verantwoordelik en verantwoordbaar teenoor hulle.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.