ToekomsVenster: ʼn Stukkende wêreld

Foto: Juanita Badenhorst.

Lees: Genesis 1:27-28:

“27 God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. 28 Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.’”

Die Skepper het die aarde aan die mense gegee om dit te bewoon, te bewerk en te geniet, om God se handewerk in die natuur raak te sien en te bewonder. Maar wat het ons daarvan gemaak? Die aarde, die pragtige blou planeet, is tot die dood toe siek. Ons lees elke dag daarvan in die koerant. Die radio en televisie dra die berigte: die tekens van die ekologiese krisis is oral te bespeur – aardverwarming, die osoonlaag wat al hoe dunner word, die hele natuurstelsels wat padgee, oseane wat vullishope word, miljoene hektare wat ontbos word, rook en giftige gasse wat mense dwing om maskers te dra. Tussen 17,000 en 100,000 spesies verdwyn jaarliks, vissoorte en voëls sterf uit. Baie diere – die ysbere in die pole en nog baie ander – raak weg. En dis nie net die diere wat ly nie, dit geld ook vir ons as mense. Ons gesondheid gee in, nuwe siektes steek kop uit. Ons kos en water raak op. Vir die eerste keer in die geskiedenis praat die koerante van ekologiese vlugtelinge wat angsvallig grense oorsteek op soek na voedsel en water.

Deur al die eeue heen het teoloë ons geleer dat, om ʼn gebalanseerde gelowige te wees, ons in drie korrekte verhoudings moet leef: ons verhouding met God, ons naaste en onsself. Maar ons het skoon daarvan vergeet: op die eerste Bybelbladsy staan dit dat daar ook ʼn vierde verhouding is: ons verhouding tot die skepping. Ons moet in die regte verhouding met al vier leef as ons werklik vrede wil hê; as ons die mense wil wees wat God ons gemaak het – Sy verteenwoordigers.

Gebed:

O Here, vergewe ons dat ons sulke swak bestuurders van die skepping is. Vergewe ons dat ons mors en die skepping opgebruik! Ons bid dat U almal wat ʼn verskil kan maak – ook ons – sal help om ons aarde heel te maak.

Leefwyse:

Om werklik ekologies verantwoordelik te leef, vra baie: om nie te mors en op te gebruik nie, om die natuur te respekteer, om verantwoordelik met God se skepping om te gaan.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cecilia Meintjes ·

Ek is sooooo bly ek het hierdie wonderlike blad”ontdek!!!” Hou aan met hierdie goeie werk! Trots Afrikaans!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.