ToekomsVenster: ’n Tyd en plek

(Foto: Laurika van der Linde / Launique Photography)

Want elke ding het sy tyd en plek – Prediker 8:6 NLV

Ek hoor my liewe moeder se wyse Bybelse raad, “Janna, daar is ʼn tyd en ʼn plek vir alles”, bedoelende dat waarmee ek ook al nou besig is, nie vanpas is nie. Ek wonder of julle soortgelyke ervarings gehad het?

As ʼn mens jonk en onervare is, veral gedurende die jare waar die hormone en emosie hoogty vier, dink ʼn mens nie altyd mooi nie. Daar is nie ʼn spasie tussen dit wat in jou kop aangaan en dit wat by jou mond uitkom nie. Met verdrag leer ʼn mens om met ʼn bietjie meer wysheid op te tree.

Ongelukkig is daar mense wat nooit leer nie. Hulle kruip altyd weg agter: “ek is so gemaak en so laat staan, wat jy sien is wat jy kry. Ek sê wat ek dink en ek dink wat ek sê”.

Dat daar tye mag wees dat ʼn mens jou sê moet sê mag so wees. Dit is nie nodig om ander se vloermat te wees nie. Nederigheid is een ding maar niemand hoef met jou te mors nie. Jy is jou eie mens en mag sê hoe jy voel.

Dan weer is daar geen verskoning vir blatante onbeskoftheid nie. Mens neem ander mense in ag net soos jy graag wil hê dat hulle jou in ag sal neem.

Tussen die letters van ʼn woord, tussen woord en tussen sinne en paragrawe is daar spasies. Kyk maar na skrif op papier. Die spasies verteenwoordig tyd om diep te dink en te besin voordat jy praat en optree.

As dit nodig is vra om verskoon te word sodat jy tot jou sinne kan kom en nie sommer maar net uitbasuin wat in jou gemoed is nie. Stilbly is inderdaad ook ʼn antwoord.

Kies tye, geleenthede, plekke en situasies versigtig, beredeneerd en verantwoordelik. Vra die Here om soos vir Nehemia ʼn strategiese geleentheid voor te berei waar jy jou sê kan sê.

Selfs “jammer” maak nie alles reg nie. Wees liewer versigtig en sensitief.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.