ToekomsVenster: ’n Veilige plek vir reisigers, soekers en stryders

berge-wolke-stiltetyd-danfador.jpg

Foto: danfador/pixabay.com

“Prys die Here! Met my hele hart wil ek die Here loof, in die samekoms van die opregtes, in die gemeente.” – Psalms 111:1 (AFR83)

ʼn Veilige ruimte, dit is wat die kerk moet wees. Met kerk bedoel ons die gemeenskap, samesyn van die gelowiges, die plaaslike gemeente, die ruimte waarbinne jy jou geloofslewe en verhouding met God beoefen.

Baie samelewingsverbande werk met lede. Jy word ʼn lid van daardie beweging deur die ordereëls na te kom, die doelwitte te ondersteun, jou ledegeld te betaal en op te daag vir vergaderings.

In die kerk werk dit anders.

Jy hoef nie ʼn lid te wees om die volle seën te ontvang nie.

Jy hoef nie te betaal om toegelaat te word nie.

Jy hoef nie jou plek te bespreek om ʼn geleentheid by te woon nie.

Jy hoef nie eksamen te skryf of te kwalifiseer om deel te neem nie.

Jy hoef nie volmaak te wees of sonder foute nie, trouens, daar is geen sulke mense in die kerk nie.

Die erediens is ʼn nederige ruimte, dis ʼn ruimte waar die mense wat teenwoordig is bekend is met val-en-opstaan, met teleurstel en teleurgestel word. Dis ʼn ruimte waar mense leer van God sodat hulle in hierdie wêreld waardige getuies kan wees.

Die gemeente bestaan uit mense, sonder mense is daar nie ʼn gemeente nie.

Die gemeente is so gesond soos die mense wat daarvan deel is. Die gemeentes is so aktief en betrokke en effektief soos die mense wat deel is daarvan.

Die gemeente is die plek waar boemelaars brood ontvang om te eet en wyn om te drink. Die erediens is die ruimte wat deur dankbaarheid gekenmerk word. Die lied sê: “Ek was verlore maar deur sy bloed, is daar nou vrede in my gemoed”.

Dit is die enigste manier hoe ons deel kry aan die gemeente, deur die Liggaam van Jesus, om deur die nagmaal met sy offer te assosieer.

Praktiese en veiligheidsredes maak die meeste kerkgeboue gedurende die week ontoeganklik. Dis ʼn stryd om by die kerkkantoor uit te kom, maar soos reeds gesê, praktiese redes noodsaak die reëling.

Op Sondae moet die deur oop staan.

Mense wat verby ry moet weet dat hulle welkom is.

Nuuskieriges moet nader staan, gewondes en kreupeles moet daar ʼn toevlug vind.

Ons het net een roeping teenoor mekaar in die plaaslike gemeente en dit is om medemense, medereisigers, soekers en stryders te wees.

Nêrens word ons opgeroep om selfs Jesus vir ander te wees nie. Dit klink baie mooi, maar ons kan nie Jesus vir ander wees nie.

Daarvoor is ons te stukkend en gebroke.

Ons kan egter medemense wees vir mekaar.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.