ToekomsVenster: ’n Voorreg om te dien en ly

(Foto: Timothy Eberly/Unsplash)

Aan julle is immers die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly. – Filippense 1:29

Ja, en almal wat ’n toegewyde lewe in verbondenheid aan Christus Jesus wil lei, sal vervolg word. – 2 Timoteus 3:12

Ons wil graag die een hê, maar nie die ander nie.

Watter groter vreugde is daar nie as om in diens van die Here te staan nie. Elke gelowige staan in sy diens, elke kind van God is ʼn geroepene, elke beelddraer, ʼn ambassadeur en verteenwoordiger van die God van hemel en aarde.

Dit is die tweede gedeelte van die teks wat nie so lekker wil tuiskom nie, die swaarkry ter wille van die Evangelie. Die teks sê selfs dat dit is ʼn “voorreg” om vir Jesus te ly.

As ʼn mens dink aan die kerkgeskiedenis, die offers wat Christene gebring het, die bloed van die martelare waarvan Openbaring praat, val die vanselfsprekendheid van die Evangelie summier weg. Ons reken nie met die enorme prys wat nie alleen die Seun van die mens nie, maar tienduisende Christene dwarsdeur die eeue betaal het sodat ons in vryheid kan aanbid.

Dan is ons somtyds so slordig, traak-my-nie-agtig en lui wanneer dit by die dinge van die Here kom. Die vryheid wat ons geniet is inderdaad met bloed gekoop. Ook in ons dag betaal mense met hul lewens vir die voorreg om vir Christus te getuig.

In die onlangse verlede is ʼn aantal sendelinge in Haiti ontvoer. Ek is nie seker hoe ver onderhandelinge oor ʼn losprys gevorder het nie. Dit het mans, vroue en kinders ingesluit.

In Lesotho is skaars twee weke gelede ʼn sendeling brutaal voor sy familie vermoor, ʼn man wat sy lewe afgelê het vir die gemeenskap wat hy geroepe gevoel het om te dien. Uiteraard is hierdie banale optrede uit selfsugtige redes gemotiveer en nie in die eerste plek teen die Evangelie nie – tog, die minagting van die posisie en dienswerk van die sendelinge spreek vanself.

Dit is ʼn voorreg om te dien en ʼn voorreg om te ly. Petrus praat van vervolging ter wille van die Koninkryk.

Ons is gewaarsku. Ons is steeds bevoorreg om in ons land vrymoedig te getuig. Ook dit kan verander. Ons moet die geleenthede benut wat ons gegun word.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
annie

Mag sendingwerk nog in SA gedoen word en bv ‘n Bybel aan iemand op die hoek van ‘n straat gegee word? Sal hy vervolg word as ‘n toehoorder van ‘n straatprediker ‘n klag gaan lê?