ToekomsVenster: ’n Wêreld na Covid-19

(Foto: David Monje/Unsplash.)

Covid-19 het hom so tuis kom maak in die wêreldgeskiedenis dat daar verwys word na ʼn pre- en post Covid-19-wêreld. Media is daarvan vol dat die wêreld nooit weer dieselfde kan wees nie. Ander terme wat gebruik word sluit “die nuwe normaal” in.

Mens hoor wonderlike verhale van besighede wat hul stelselmatig herposisioneer in die Suid-Afrikaanse konteks. Geloofsgemeenskappe het die krag van die elektroniese media ontdek en ʼn nuwe era in die versorging van lidmate se geestelike behoeftes ingelui. Sportgeleenthede word in die kuberruimte aangebied, wedstryde gespeel sonder ʼn enkele ondersteuner op die pawiljoen. Virtuele wedstryde word aangebied en wenners en verloorders word aangewys. Daar word ook beplan om skole te heropen maar die uitdagings waarmee onderwysers, beheerrade, ouers en kinders te doen gaan hê is duiselingwekkend.

Covid-19 het ons op ʼn paar belangrike dinge gewys.

Ons interafhanklikheid en wêreldwye konneksie met mekaar: ʼn Kokonbestaan is vreemd aan so ʼn wêreld. Wêreld wyd het nuwe betekenis gekry.

Ons broosheid as mense: Meer as 200 000 mense het reeds aan die virus gesterf en die dodetal neem steeds toe. Ook in Suid-Afrika word hospitale, maar ook begraafplase gereed gemaak om die honderde mense wat mag siek word en selfs sterf, te akkommodeer.

Die wêreld is onseker en baie beleef angs: Daar word selfs gepraat van ʼn tweede rondte Covid-19 wat kan rondgaan. Dit is ook nie seker of iemand wat Covid-19 onder lede gehad het genoegsame weerstand en immuniteit opgebou het om nie weer siek te word nie.

Ou modelle is uitgedien: Antwoorde wat voorheen bevredig het wankel nou soos gras in die wind. Oral word desperaat gesoek na ʼn model wat tegelykertyd die ekonomie aan die gang kry sonder om die infeksies te verhoog. Maskers, handskoene, sosiale afstand, tuiswerk, handreinigers, ja, selfs ʼn aandklokreël is ingestel en aan die orde van die dag.

Die ontstellende omvang van armoede in Suid-Afrika: Die wyse waarop uitgereik word na medemense is merkwaardig. Maar mense kan nie ad infinitum arm, honger en dors bly nie. Daar moet ʼn ontsnappingsroete in plek gebring word wat ʼn volgende generasie bemagtig en toelaat om minstens ʼn middelklas bestaan te maak.

Die belang van eenvoud en egtheid: Geen geld kan gesondheid koop nie, jy kan weliswaar ʼn omgewing probeer skep wat veilig en gesond is maar selfs dit waarborg nie dat jy nie kan siek word nie. Die siekte vra nie na posisie en status, belang en plek nie maar dring hom op aan wie hy wil. Voor die siekte is ons almal gelyk, daar is geen aanstellerigheid nie. Doen dus afstand van ʼn onegte, voorgee lewe wat daarop gerig is om ander mense te beïndruk.

Die waarde van stilte: Stilte is ʼn vertrekpunt, dit is waar jy begin. Stilte is vertroue in God, die onsienlike maar teenwoordige. Die “rat race” van vroeër het ons nie gevrywaar daarvan dat dinge ineenstort nie.

Ja, dit is ʼn baie vreemde plek en tyd waarin ons onsself bevind.

Soos om tieners groot te maak iets is waarvoor ouers nie heeltemal voorberei kan word nie omdat hulle jou telkemale verras en geen twee tieners dieselfde is nie, weet ons ook nie hoe ʼn post Covid-19-wêreld daar gaan uitsien nie. Ons sien tekens maar die toekoms sal leer en moet nog uitspeel.

Ek is nie moedeloos nie, maar opgewonde en vol verwagting. Die post Covid-19-wêreld kan net beter wees as die waaruit ons sopas ontsnap het. Ons mag nie weer in die strik van eiebelang, selfsug, magsvertoon, vooroordeel en vrees gedompel word nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.