As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie. – Jesaja 43:2
So luister ek na ʼn paar bekende ekonome se ontleding van Tito Mboweni, minister van finansies, se begrotingsrede oor die radio. Interessant genoeg is hulle eintlik redelik positief oor die begrotingsrede en reken dat die minister, gegewe Suid-Afrikaanse en wêreldwye tendense en realiteite, eintlik goed presteer het.
Dit is in dié gesprek waar een van die ekonome die frase gebruik: “daar is darem ʼn klompie botsels na die vuur”.
Wêreldwyd, ook in Suid-Afrika, breek daar dikwels veldbrande uit en veroorsaak dit trauma, pyn, verlies en selfs die dood.
Dit is altyd so tragies dat die veld, bome, insekte en selfs diere slagoffers moet wees van ongenaakbare veldbrande.
Pres. Cyril Ramaphosa het tydens sy staatsrede na die eeueoue Fynbos verwys wat telkemale weer spreekwoordelik opstaan en dit nie laat onderkry deur die vernietigende effek van vuur nie.
Ek lees die interessante brokkie raak dat van die sade van die Fynbos net onder hoe temperature ontkiem en seker die proses van ontkieming aan die gang sit. Die veldbrande dra dus op ʼn interessante wyse by tot die voortbestaan van die spesie.
Die vuur spreek nie die laaste woord nie. Nadat die vlamme die droë wintergras swart gebrand het, is die pragtige groen spruite na die eerste dou altyd lafenis vir die oë.
Vuur kan ons nie onderkry nie, die vuur van negatiewe en traumatiese omstandighede. Covid-19 is daarvan ʼn teenswoordige voorbeeld. As Daniël se drie vriende hulle in die vuuroond beleef word hulle bewus daarvan dat hulle nie alleen is nie.
Daniel 3:25 – Hy sê toe: “Maar ek sien dan vier manne wat vry en ongedeerd rondbeweeg in die vuur, en die vierde lyk soos ‘n Hemel wese!”
“Bedags sal die son jou nie steek nie en snags sal die maan jou nie kwaad aandoen nie” lui die woorde van die bekende – Ps. 121.
Ook Ps. 91:3-7 leer ons dat God sy kinders op pas:
“Dit is Hy wat jou uit die voëlvanger se wip hou en jou bewaar van dodelike siekte. Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ‘n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante. Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag, vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie. Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou, vir jou sal niks tref nie”.
“Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here”. – Rom.8:38-39
Botsels na die vuur is kinders van die Here se voorland. Ons kan die vuur nie altyd keer nie. Die lewe is somtyds onheilspellend onvoorspelbaar. Die saad van die geloof, van vertroue en oorgee aan die Here bring egter telkens weer die lieflike geur van jong belowende en geïnspireerde botsels na vore.
Is jy onlangs deur die vuur? God se genade is tot jou beskikking.
Blom weer waar jy geplant is.
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za
Amen.
Dankie Vader!
Dankie Here Jesus U wat vir my die weggebaan het is altyd by my….niks maar niks kan ons skei nie…Amen