ToekomsVenster: Nader God met volle vrymoedigheid

(Foto: JP Voogt)

Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie, ter wille van Jerusalem sal ek nie stilbly nie totdat daar vir hom redding deurgebreek het soos ‘n nuwe dag, soos die lig van ‘n brandende fakkel. – Jesaja 62:1

Ons gaan gebuk onder vele uitdagings waarvan Covid-19 seker tans die vernaamste is. Die lewe is nie eenvoudig nie en somtyds onhanteerbaar.

Wat staan ons as gelowiges te doen in so ʼn tyd? Wat vra die Here van ons? Watter appèl bring die feit dat ons gelowiges is ons kant toe?

Dit is nie eenvoudige vrae om te antwoord nie. Menings is uiteenlopend en somtyds verwarrend. Dalk moet ons ʼn paar geloofsfeite op die tafel plaas as vertrekpunt.

Ons leef in ʼn  stukkende wêreld. Die nawerking van die sonde is tasbaar met ons en gebrokenheid, hartseer en trauma word gelowiges nie noodwendig gespaar nie.

God is op die troon, staan nie verleë teenoor die realiteite waarmee ons dag vir dag gekonfronteer word nie. (Lees Ps.93:4)

Ons Vader is ʼn  goeie Vader wat ons belange op die hart dra en nie skroom om sy beloftes in ons lewens waar te maak nie. Hy is ʼn troue Verbondsgod en in alles volkome betroubaar. Ken jy die lied “Your a good, good Father, that’s who you are, and I am loved by You, that’s who I am”? Soek dit aanlyn. Die kunstenaar is Chris Tomlin.

Omstandighede spreek nooit die laaste woord nie. Die laaste woord, ʼn  oorwinningswoord is reeds deur Jesus gespreek (dis is volbring) en word in die hiernamaals ʼn  volle werklikheid. (Joh. 19)

Niemand wat sy vertroue in die Here plaas word teleurgestel nie. (Ps. 34)

God is almagtig, meer as in staat om hierdie wêreld te bestuur en Hy doen dit met vaardigheid en is ten volle in beheer. Ons wêreld sal sy Godbepaalde bestemming bereik. Uiteindelik sal God alles en in almal wees wanneer die heerskappy deur die Seun aan die Vader oorhandig word. (1 Kor. 15:28)

Ons mag vra, ons moet vra, nie huiwer om God aan sy beloftes te herinner nie.

Gebed is ʼn kragtige instrument en word op wonderlike wyse deur die Vader gebruik in die koms en deurbreek en volle realisering van sy Koninkryk. (2 Kor. 1:20)

Doodgewoon omdat ons nie alles weet en verstaan nie – God se weë nie ons weë is nie – Hy maak nie foute nie en is volkome betroubaar. Daarom mag ons met volle vrymoedigheid tot Hom nader en Hom met ons hartseer, drome, trauma, teleurstelling, menswees en toekoms vertrou. Doen dit ook vandag.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Dankie Jannie, het die boodskap nodig gehad vandag, in besonder

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.