ToekomsVenster: Nader tot God

rooi-blom-blomme

Foto: Milos Tonchevski/Unsplash.com

Nader tot God en Hy sal tot julle nader. – Jak. 4:8

Uiteraard moet ʼn mens Jakobus binne konteks lees. Hy verwys na ʼn lewe wat nie getuig van die inwonende Heilige Gees nie. Dit is waarom die werke van die geloof nie sigbaar is nie. Die afwesigheid van aanwysbare dade van dankbaarheid is net ʼn uiterlike manifestasie van ver van God af wees. Wie naby aan die Here leef kan nie anders as om die vrugte van die bekering te dra nie.

God is nie ver nie. Hy is ook bereid om te vergewe.

Maar by U ís daar vergifnis: daarom word U steeds gedien. – Psalms 130:4

Jakobus het nie ʼn gerieflikheidshalwe toekeer na God in die gedagte nie. Dit gaan duidelik oor ʼn hartgrondige bekering, ʼn radikale rug toekeer op die sonde en navolgelingskap van die lewende Christus. Dis die verrassende van die Here, sy bereidwilligheid om weer te begin. Die verlore seun is hiervan ʼn sprekende voorbeeld.

Die pa in die bekende gelykenis het al die reg in die wêreld om sy seun die rug toe te keer. Hy was arrogant en ondankbaar. As hy egter in sy desperate alleenheid besluit om na sy Vader terug te keer staan dié reeds en wag. Wie ook al onder die oortuiging van die Heilige Gees besluit om terug te keer na die Vaderhuis, word innig verwelkom.

Ek ken nie vandag jou konteks nie:
Jy mag besluit om jou huidige leefstyl te vergoeilik. “Almal leef so, ʼn mens moet darem nie lewensvreemd wees nie”.
Jy mag besluit om die duiwel of ʼn ander party, selfs God te verkwalik.
Jy mag egter ook besluit om tot God te nader.
Dit is die beste besluit wat jy kan maak.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.