ToekomsVenster: Neem jou roeping weer op

man-staan-teen-muur-met-bybel

(Foto: Ben White/Unsplash)

Miga 5:6-7 – Dié van Jakob wat oorbly, sal tussen baie volke wees, hulle sal daar wees soos dou wat van die Here af kom, soos stortreëns op groen gras wat nie vir ‘n mens wag nie, nie na mense kyk nie. Dié van Jakob wat oorbly, sal tussen die nasies wees, tussen baie volke, hulle sal daar wees soos ‘n leeu tussen wild of tussen ‘n trop skape: hy verskeur as hy tussen hulle deurstap, hy vang sy prooi, en niemand kan dit uit sy bek ruk nie.

Op die wat bly volhard rus daar ʼn belangrike verantwoordelikheid. Iets van die sout en die lig van die nuwe Testament is hier ter sprake. Let op dat die roeping “onder die volke” is, inklusief nie uitsluitend of selfgesentreerd nie.

“Dou wat van die Here af kom”, heilsaam en verkwikkend. Wie ken nie die more dou wat groet as ʼn mens na ʼn lang nag opstaan nie. Die veld ruik heerlik en is geseën met ʼn genade kombers. Stortreëns eweneens bring groei en seën. Die gras groei welig en bied voeding aan die diere van die veld.

Daar is min dinge so mooi soos gras wat in die wind waai nie. ʼn Mens wil homself in en op die gras neer vlei en die oomblik geniet.

Stortreëns wat in oorvloed val en die aarde nat maak sodat mense en dier kan voortbestaan. Dit is die heilsame effek wat die volk van die Here onder die nasies moet en sal hê.

Dit is die onverdiende herstel wat God bring in die lewe van mense wat onverskillig volhard het met die verkeerde maar vir wie Hy nie kan of kon prysgee nie. Israel se roeping onder die volkere, soos bevestig en belowe aan die groot geloofsvader Abraham, word herstel.

God neem sy kinders weer in diens.

Die beeld van die leeu vestig die aandag op die heersersposisie wat Israel onder die volkere sal inneem. Hulle sal respek afdwing en met die vyand afreken. Daar sal hulle wees, tussen baie volke, ʼn skynende lig wat met die gesag van God optree. Geen wonder dat die volkere na die tempel stroom en volgelinge van die Koning vasgryp en sê “ons wil met julle saamgaan nie”. Israel heers, maar deur te dien. Hulle het ʼn opbouende invloed op diem mense rondom hulle. Hulle stel die alternatief en leef dit voluit. So ʼn belofte is te goed om prys te gee of mis te loop. Miskien het jy ook jou roeping iewers langs dien pad losgelaat.

Miskien het jou lewensstyl jou van vrymoedigheid teenoor God beroof.

Hy het nie verander nie, jy, ons het. Dit is steeds die aangename dag van die Here. Hy wag op jou, die mantel val op jou skouers, jy is geroep en getaak om ander te dien.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.