ToekomsVenster: Net Hy is my rots, my redding

(Foto: Ayush Sharma/Unsplash.)

“Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding. Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek vas en stewig staan. – Psalm 62:2-3

Niemand hou daarvan dat sy rus versteur word nie. Ek praat nie van nagrus nie, maar van die rus en vrede wat nodig is om elke dag sinvol en met vreugde te leef. Ongelukkig is daar soveel goed wat ʼn mens se ekwilibrium, jou balans en vrede versteur.

Suid-Afrika is ʼn interessante plek om in te woon. Daar gebeur altyd iets. Ongelukkig het soveel van wat gebeur die potensiaal om jou vrede te roof en jou van lewensvreugde te ontneem.

Hoe bly ʼn mens gefokus, op koers en ongestoord te midde van soveel verwikkelinge op politiese, ekonomiese en sosiaal-maatskaplike terrein?

Dit is niks minder as ʼn wonderwerk as ʼn mens in so ʼn wêreld oorleef nie. Dit kom wanneer jou fokus op Jesus en sy Woord bly. Die oomblik wat jy ontwrig en gesteurd voel, moet jy kyk of jou fokus geskuif het.

Fokus is belangrik. Dit rig jou voetstappe. Jy kan nie in een rigting kyk en in ʼn ander rigting stap nie. Na enkele tree, sal jy onderstebo wees. Ek hoor sommer my pa se stem wat maan: “Kyk waar jy loop”.

Fokus op die doelwit, die wenstreep, die bestemming, die lewe by en saam met God.

Dit is onafwendbaar dat die lewe op jou ʼn appèl gaan maak.

Om gefokus te bly beteken nie om onbetrokke te wees nie. Dit beteken dat jy ontdek wie jy in Christus is en wat sy doel met jou lewe is en daarmee besig bly. Dit beteken doodgewoon om met vrymoedigheid te kan sê: “Dit is nie waarvoor en waartoe die Here my geroep het nie”.

“Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ʼn stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs’.”− Jesaja 30:21

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Dankie Here dat ek in U voetspore mag volg