ToekomsVenster: Niks kan ons uit die hand van God ruk

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

“Hulle bring Jesus toe na ʼn plek Golgota, wat Kopbeenplek beteken.” – Markus 15:22 (AFR83)

Ons het die afgelope week Paasfees gevier. Die offer wat Jesus aan die kruis van Golgota gebring het beloof versoening vir ons sonde en ongeregtigheid. Ons hoef nie meer slapelose nagte te hê oor wat die ewigheid vir ons inhou nie.

Ons vind ons sekuriteit daarin dat ons name geskryf staan in die boek van die lewe en van die Lam. Niks kan ons van die liefde van God in Christus Jesus skei nie.

Die offer wat Jesus gebring het word bevestig deur die oop graf. As Jesus nie opgestaan het nie, was ons steeds verlore in ons sonde.

Nou is die kruis en die leë graf ʼn werklikheid wat ons ʼn lewe en toekoms kan gee. Omdat Jesus oorwin het, kan ons oorwin. Ons lewe in sy oorwinningskrag.

Die Heilige Gees stel ons daartoe in staat.

Die vraag is of Paasfees, die kruisiging en die opstanding van Jesus al vir elkeen van ons wat hier lees en luister ʼn werklikheid geword het? Daar is ʼn verskil tussen kennis neem en glo.

Baie mense neem kennis van hierdie geloofswaarhede, maar dit dring nooit deur tot hulle harte nie.

Dit verander nie hulle lewe en lewensuitkyk nie. Die ewigheid is bedreigend en word met wilskrag buite die gedagtewêreld geplaas.

Sommige glo dat die lewe hulle die luuksheid sal bied dat hulle op ʼn latere stadium kan besluit. Vir meer as een rede is dit dwaas om so te redeneer.

Die lewe is nie in ons hande nie en waarsku jou nie wanneer dit opgehef word nie. ʼn Mens staan nie soggens op en dink dat dit vandag jou laaste dag gaan wees nie.

Die dood is ʼn ongenooide gas wat sonder jou medewete en toestemming ʼn appèl op jou lewe maak.

Maar dit is nie net die lewe hierna watter sprake is nie.

Die lewe hier en nou is eweneens belangrik.

Die gebeure van Paasnaweek gee ons die sekuriteit, die troos en die krag vir elke dag, hier en nou, om met oortuiging en oorgawe te leef.

Immers, niks kan ons uit die hand van God ruk nie.

Ek kan jou nie laat gaan sonder om te vra of die gebeure van Paasnaweek al in jou lewe, van verstand en kennis na hart en ervaring, geskuif het nie?

Om hierdie reis te onderneem is nie moeilik nie. Erken doodgewoon jou afhanklikheid van God in Christus Jesus en vra hom om jou lewe oor te neem.

Daar wag ʼn heerlike avontuur op jou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat ek opnuut weer kan vra dat U my lewe sal bestuur na U Wil..Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.