ToekomsVenster: Niks kan ooit weer dieselfde wees nie

kruis-04

Foto: Kidstory/Pixabay.com

Julle behoort aan God, liewe kinders, en het die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is. – 1 Johannes 4:4

Dis die duiwel voor en die duiwel agter – genoeg om van naar te word. Dis eintlik aardig hoe ons die duiwel en sy negatiewe en afbrekende werk “bemark”. Hy het geen bemarkingsagentskap nodig nie. Laat dit aan die Christene oor.

Daarmee wil ek nie vir ʼn oomblik suggereer dat die bose nie ʼn werklikheid is nie (Lees Ef. 6). Dat hy die lewe vir ʼn mens baie onaangenaam kan maak, is gewis en dat hy strategies alles in die stryd werp om kinders van die Here te laat ontspoor, is eweneens waar.

Maar daar is die kruis van Golgota en die oop graf om mee rekening te hou. Alles het ingrypend verander met die offerdood en opstanding van die Seun van die mens. Niks kan ooit weer dieselfde wees nie.

• Die kruis is God se stopteken en is midde-in die geskiedenis van die mensdom geplant. Die kruis sê: “Tot hier toe, en nie verder nie.”
• Die kruis het met die duiwel en sy trawante afgehandel.
• Die duiwel se brul is net voorgee. Hy weet dat sy tyd min is en werp alles in die stryd om die laaste houe in te kry (Lees Op. 12).

Die bose het net soveel houvas in die lewe van ʼn gelowige as wat aan hom gegee word. Deur hom gedurig te blameer vir die verkeerde dingein die wêreld, bevestig ’n mens eintlik sy gewaande heerskappy.

Die Woord leer ons dat die duiwel in die oorwinningstog van Christus meegevoer word (Lees Kol. 2:15).

Die dood, die duiwel se laaste troefkaart, is ongedaan gemaak omdat die angel van die dood – dit wil sê die sonde – die nekslag toegedien is (Lees 1 Kor.15).

Jesus het die strategie om die bose se aanslae af te weer, kom demonstreer. “Dit staan geskryf” is telkemale vir die duiwel aangebied as verweer teen sy bose verleiding en valse en aanmatigende beloftes (Lees Matt. 4:4).

Die Bybel sê “weerstaan die duiwel en hy sal van jou af wegvlug” (Lees Jak.4:7).

Neem verantwoordelikheid vir die verkeerde in jou lewe en reken ondubbelsinnig af daarmee.

Die opstandingsdag van die Heilige Gees woon en werk in jou (Lees Ef.1:19).

Leef vandag daaruit.

Gebed:

Here dankie dat ek meer as ʼn oorwinnaar is deur Christus wat my die krag gee.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

René Erwee ·

Die stukkie bevestig God se wonderlike almag en dat ons onder Jesus se bloed staan. Die duiwel is soos ‘n brullende leeu en ons sien dit in die bose dade en hulle gevolge om ons – dade wat gepleeg word deur Godlose mense het tog ‘n impak op ons. Ons gevegte is daagliks in die naam van Jesus teen die bose magte !op aarde en in die lug – dis erg, dis glad nie dat Christene die duiwel bemark nie!

René Erwee ·

Baie mooi stukkie wat ons verseker ons dien ‘n almagtige God en staan onder die beskerming van Jesus se bloed. Die duiwel se brul is nie net voorgee nie – ons sien daagliks die gevolge van Godlose mense se dade wat ons as Christene ook raak. Ons geveg teen die bose magte op aarde en in die lug duur daagliks onder die bloed van Jesus voort. Ek dink nie ons as Christene bemark die duiwel nie – ons is net intens bewus daarvan dat soveel mense nog nie Jesus se kruisdood en reddende bloed aangeneem het nie. Enkele stellings in die stukkie is verwarrend

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.