ToekomsVenster: Nog genesing en voortgaande prediking

blomme_tuin_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Toe dit aand geword het en die son al onder was, het die mense al die siekes en dié wat in die mag van bose geeste was, na Hom toe gebring. Die hele dorp het by die deur van die huis saamgedrom. Hy het baie siekes wat allerhande kwale gehad het, gesond gemaak en baie bose geeste uitgedrywe. Hy het die bose geeste nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle geweet het wie Hy is. Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ʼn eensame plek en daar gebid. Simon en dié wat by hom was, het Hom egter gesoek, en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.” Maar Hy antwoord hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die nabygeleë dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.” Hy het toe gegaan en dwarsdeur Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste uitgedrywe. Markus 1:32-39

Jesus het ʼn baie bedrywige program. Markus verhaal hoedat die mense in groot getalle opgedaag het dat Jesus die siekes kan genees en diegene wat in die mag van die bose was, kon bevry. Soos ons Jesus ken, het Hy moeite gedoen met elke persoon wat by Hom aangedoen het. Ek glo nie Hy het een omnibus-gebed gedoen en daarmee was dit afgehandel nie. Kan jy Hom hoor as Hy in gesprek tree met die behoeftiges – “Wat is jou naam, waar woon jy, hoe lank is jy al siek, hoe beïnvloed dit jou funksionering?”

Kan jy hoor hoe Hy empaties meegevoel betuig met die lyding van mense?

“Ai, dis erg. Ek kan dink dat dit ongemaklik moet wees. Ek is so bly dat jy na My gekom het. Ek wil jou graag genees. Jy is by die regte adres.”
Het jy nood vandag?

Uiteraard weet Jesus alles van jou af. Hy is alwetend en alomteenwoordig. Hy doen moeite met jou. Hoor hoe Hy jou by die naam noem, hoe Hy vertel dat Hy bly is dat jy na Hom gekom het.

Bly ʼn rukkie in sy teenwoordigheid.

Geniet sy vriendelikheid en omgee.

“Almal soek U!”

Jesus se lewe, optrede en prediking het krag gehad. Die mense het gehoor dat Hy lewe bring, dat sy optrede anders was as dié van die geestelikes van die dag. Hulle was teleurgesteld en ontroerd deur die oppervlakkige interaksie met die geleerdes. Hier was iemand wat regtig en hartgrondig omgegee het. Hy is so anders. Daarom stroom die mense na Hom.

Hoe lyk die Jesus wat ons aan mense voorstel?

Ook besig, te besig om regtig om te gee?

Tyd saam met sy Vader. Dit was die geheim van Jesus se krag tydens sy aardse bediening. Eerste dinge eerste. Iemand het gesê: hoe besiger jy is, hoe meer tyd saam met die Here. Hierdie tydjie saam wil jou daarmee help.

As ons die gedeelte weer lees, vra jouself af waarom die kerk so min krag het in die wêreld. Sal mense weer na Jesus toe stroom? Hoe is jy daarin ʼn medewerker?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

HEVW ·

Ja Jesus is in sigself die mens se enigste HOOP. In sy teenwoorgigheid is dit altyd salwend en bevrydend.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.