ToekomsVenster: Nog ʼn onwaarskynlike kandidaat soos Ester


ester-joe-en-lindi

‘n Toneel uit die Afrikaanse musiekblyspel Ester. Argieffoto.

Lees: Ester 1-10

Ek het vir ʼn klompie jare in ʼn paar kinderhuise in Pretoria gewerk en terdeë onder die indruk gekom van baie van hierdie kinders se isolasie, marginalisering en stemloosheid. Ons kan ook goedsmoeds so oor Ester dink. “Mordegai het as voog opgetree vir Hadassa, dit is Ester, want sy was ʼn weeskind. Na die dood van haar pa en ma het Mordegai haar as dogter aangeneem” (2:7). Ester kry egter onder Mordegai se vlerke ʼn skuilplek en vind sy haar stem. Mordegai self is niks meer as ʼn banneling in die Persiese ryk nie, maar net nog ʼn nommer in die massas. Tog maak die Here van dié twee onwaarskynlike kandidate gebruik om sy volk van bykans totale uitwissing te red … en dit op ʼn indrukwekkende wyse! Twee dinge oor Mordegai val op: sy besorgdheid oor Ester, onder meer adviseer hy haar om nie haar Joodse herkoms bekend te maak nie, en sy hardnekkige weiering om enige eer aan Haman te toon. En dis juis hierdie optrede van Mordegai wat dien as die vuurhoutjie in die kruitvat van Haman se haat van die Joodse volk. Haman bied selfs ʼn kruiwa vol silwer aan vir koning Ahasveros vir die reg om die Joodse volk in die Persiese ryk uit te wis (3:9). En nadat hy die groen lig kry, tel sy haat en veldtog teen die Jode spoed op.

Net twee – op die oog af, onnoemenswaardige goed, een elk van Ester en Mordegai – sou sy planne fnuik! Ester se mooi gesiggie (2:7) en Mordegai se hardkoppigheid (3:4) – so dink ons dikwels. Ek merk egter eerder Ester se bereidheid op om haar lewe as offer te gee (4:16): “As ek moet omkom, moet ek maar omkom” en Mordegai se fyn aanvoeling vir God se tydsberekening (4:14): “Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ʼn tyd soos hierdie dat jy koningin geword het.” Daar is nog een opvallende kenmerk: albei ken van afsonder en albei ken van soek die Here se teenwoordigheid en aangesig (4:15-16).

Die res is geskiedenis, wil ek amper sê. Hoewel ons nêrens in die oorspronklike teks die Naam van die Here raakloop nie, is daar heelwat dinge wat God se ingryping verklap. Opvallend is die twee frases “net toe…” (6:4; 7:8). Nou ja, ons glo nie aan “toevallig” nie nè! Ook meen die slim mense dat die talle passiewe vorme van werkwoorde in die teks God se besig-wees, verklap. En nog ander wat meen die frase “van ʼn ander kant af” (5:14) dui op God se ingryping en optrede. God bevry sy volk, tog gebruik Hy die min en die bietjie van twee onwaarskynlike kandidate om daardie bevryding te bewe

Raak prakties

Ons kyk soms met minderwaardige oë na die min en die bietjie wat ons hét en ís. Die verhaal van Ester bevry ons hiervan. Want dikwels, as ons agter die skerms kyk, sien ons iets dieper en kragtiger raak in ons lewens. Wat lê agter jou mooi gesiggie? Wat lê agter jou oënskynlik hardkoppige optrede? Dalk ʼn afhanklike hart wat God se aangesig soek, ʼn vreeslose hart wat die Here eerste stel! Skryf die storie van hierdie enkele eienskap in jou lewe en hoe die Here dit al gebruik het tot voordeel van ʼn kantlyn-mens of gemeenskap.

Gebed

Dankie Here dat U my min en bietjie tot u eer gebruik. Ek wil U grootheid vier. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

kerneels ·

Nou werklik ‘n pragtige stuk, Jannie Pelser. Dankie! Ek is ook diep dankbaar dat die boek Ester vervat is in die Skrif – ook so Hooglied.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.