ToekomsVenster: Nooit so alleen

Foto: Billy Pasco/Unsplash

Die teksgedeelte waar Jesus homself in die tuin van Getsemane bevind is aangrypend en tekenend van ons eie eensaamheid te midde van aanvegtinge en trauma.

Jesus weet dat die kruisdood op Hom wag en omdat Hy volledig mens is worstel Hy met die gedagte. Die vernedering en mishandeling wat voorlê is nie iets waarna enige mens sou uitsien nie. Soveel te meer omdat Hy sonder sonde is en as onskuldige moet boet vir die halsstarrige onverskilligheid en selfs misdadigheid van mense wat dit nooit kan verdien nie. Hy sterf selfs vir die spotters.

Hy neem sy drie vertrouelinge met Hom saam en vra dat hulle sal waak en bid terwyl Hy ʼn entjie verder op sy aangesig neersak en die Vader vra dat die beker by Hom sal verby gaan.

As Hy terugkeer vind Hy die dissipels aan die slaap. Hy roep hulle weer ʼn keer om te waak en te bid maar as Hy terugkeer vind Hy hulle weer aan die slaap.

Daar is uitsonderlike mense rondom die meeste van ons. Dit is egter so dat ons somtyds doodgewoon alleen is met ons sorge en hartseer. Alleen behalwe dat God die Vader daar is en meer as gewillig is om te luister en te troos.

Ken jy die alleenheid waarvan die teksgedeelte praat?

Ek is seker jy was ook al op die plek waar jy selfs al sou mense luister nie die vrymoedigheid het om jou gedagtes met hulle te deel nie.

Dis te pynlik, te intens, selfs te skokkend.

Dan is dit net jy en God.

Immanuel. God met ons, en met jou.

Matt. 26:38 – “…en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.”

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

christine ·

AMEN !! Ek al vir 19 maande alleen maar my Here is by my , ek sal nooit opgee nie.AMEN

Maria ·

Chistine ek is 4jaar weet jy wat dit beter so . Want daar nie n persoon wat jou sal jou misbruik of seermaak of in die steek laat nie want Here het my nooit en ooit my in die steek gelaat nie. Ek en Here verhouding is sterker as ooit dankie daarvoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.