ToekomsVenster: Nuwe klere


God-sentrum-van-my-lewe

Foto: Argief.

Jesua het klere aangehad wat liederlik bevuil was. Hy het daar voor die engel gestaan, en die engel het vir sy helpers gesê: “Trek uit dié liederlike vuil klere van hom.” Vir Jesua het hy gesê: “Ek het jou jou oortredings vergewe en Ek gaan vir jou skoon klere aantrek.” Toe sê ek: “Hulle moet ‘n skoon tulband op sy kop sit!” Hulle het die skoon tulband op sy kop gesit en hom aangetrek terwyl die engel van die Here daar by staan. – Lees Sagaria 3:1-5

In gister se oordenking het ons in die gelykenis van die vergewende Vader (Luk 15: 11-32) gesien hoe die terugkerende seun as teken dat hy vergewe is nuwe klere ontvang het, asook ‘n ring aan sy vinger en skoene (vers 22).  Hy is dus volledig geklee. Die ring was ‘n familiering wat ook beteken dat hy in sy status as lid van die familie herstel is.

Die skoon en nuwe klere in beide gevalle vra ‘n nuwe lewenstyl.  In Sagaria moet die volk hulle dankbaarheid wys vir die vergifnis wat hulle ontvang het.  In die verlore seun se geval impliseer die feit dat hy homself as arbeider van sy pa wou kom aanbied en die onverwagste herstelde status wat hy ontvang het, dat sy dankbaarheid groot moes wees.  Dit is ook waarop die vader sinspeel wanneer hy die oudste seun oor die vingers tik oor sy ondankbaarheid (Luk 15:31).

Vergifnis (skoon klere) met die familiering aan ons vinger of tulband om ons koppe spoor ons aan om nou ons werk wat God ons opgedra het te gaan doen.  Dit moet ons opgewonde en slaggereed maak vir die geleenthede tot diens wat voorlê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.