ToekomsVenster: Oefen jou oë

sonstrale-dankbaarheid

Foto: lohannaps/Pixabay.com

“Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.” – 1 Tessalonisense 5:16-18

John Green skryf in sy boek Looking for Alaska dat mense geskape is om liefgehê te word en dinge om gebruik te word. Die rede waarom die wêreld vandag in chaos is, is omdat dinge liefgehê word en mense gebruik word. Ons lees in 1 Johannes 2:15-17 dat alles wat ons oë sien en begeer, al ons gesteldheid op besit, nie van God af kom nie. Dit is nie Sy wil dat ons besittings, wat verganklik is, vir ons so belangrik moet wees nie.

Waarom is dit so dat ons dinge so liefhet en onsself altyd vergelyk met mense wat meer as ons besit, maar nie met mense wat minder besit nie? Dit laat ons net ontevrede en terneergedruk. 1 Tessalonisense 5:16-18 leer ons dat dankbaarheid ’n opdrag van God is.

Sodra ons onsself begin vergelyk met mense wat minder as ons het, sal ons meer dankbaar wees. Dankbare mense is gelukkige mense.

Dink hieraan

Dis nie moeilik om redes vir ʼn dankbare lewe te vind nie. In die bewoording van Psalm 16 (die ou vertaling lees so mooi), het die meetsnoere vir die meeste van ons in lieflike plekke geval. Wat God gee is goed, onverdiend en omhul van liefde.

Waarom daar soveel nood in die wêreld is, kan ons moeilik verklaar. Dalk is een van die redes dat ons dankbaarheid nie ver genoeg gaan nie. Woorde is uiteraard baie belangrik, maar dade maak uiteindelik die verskil in en aan baie mense se lewens.

Gebed

Here, U verwag van my om ’n biddende en dankbare ingesteldheid te hê. Gees van God, asseblief, help my om doelgerig my oë te vestig op my gawes eerder as op my tekortkominge. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.