ToekomsVenster: Oestyd

(Foto:
Aarón Blanco Tejedor/Unsplash)

Verder het Hy gesê: “Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hoe weet hy self nie. Vanself bring die aarde die graan voort, eers ‘n halm, dan ‘n aar, dan die vol koringaar. En wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is.” – Markus 4:26-29

Die metafoor van saai en oes word dikwels in die Bybel gebruik en is by die meeste van ons bekend.

Jesus het dikwels in die gelykenisse wat Hy vertel het van simbole in landbou gebruik gemaak. Ook hier sluit Jesus nou aan by die landelike konteks waarbinne baie van sy gehoor hulself bevind. Die luisteraars verstaan sommer dadelik wanneer Jesus praat omdat hulle eerstehandse ervaring het van die voorbeeld wat Hy gebruik.

Die vertelling bevat belangrike punte:

  • Iemand saai; sonder iemand wat saai gebeur daar niks nie.
  • Die tydsverloop tussen saai, opkom, groei en wasdom bereik is opmerklik.
  • Die misterie waarin die proses omhul is, is eweneens aan die orde. Die landbouer weet nie hoe die proses plaasvind nie maar weet dat dit tog wel plaasvind. Byna asof outomaties, vanself, bring die aarde die graan voort.
  • Wanneer oestyd daar is, word die sekel ingesteek en die oes ingesamel.

In hierdie week gaan ons na ʼn paar belangrike merkers rakende saai en oes kyk. Mag die Here ons harte en begrip verruim dat ons onsself ook sal raaksien in die gebeure. Die aangehaalde verse bevat reeds belangrike merkers.

Ek wonder hoe die gedeelte na jou toe kom:

  • Miskien is jy ongeduldig omdat jou pogings nie met sukses beantwoord word nie?
  • Miskien wil jy die proses self aanhelp en die oes tot wasdom dwing?
  • Miskien is daar van geen oes sprake nie omdat jy nog nie saad in die grond het nie?
  • Miskien is jy by oestyd en opgewonde dat die saad vrug dra?

Ons kuier hierdie week verder saam. Intussen vra die Here om hierdie metafoor nuut en lewendig te maak as jy daarna luister en daaroor nadink.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Hete dat U met ons handel volgens ons menslike vermoeens….U voed en klee ons tot in alle ewigheid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.