ToekomsVenster: Om ander te dien

Jesus-wat-voete-was

(Argieffoto.)

Toe Hy hulle voete klaar gewas en sy bokleed aangetrek het en weer aangesit het, sê Hy vir hulle: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. – Johannes 13:12-14

Ek wonder wie van julle het al deel gehad aan so ʼn voete was seremonie. Ek onthou ʼn geleentheid waar iemand eers ons koppe gewas het en toe ons voete. Die twee sake het nie so lekker gevloei nie.

Nietemin, in Jesus se tyd is gaste se voete gewas wanneer hulle by ʼn gasheer aangekom het. Stofpaaie en alles wat dit impliseer, sandale daarmee saam, kon ʼn mens met onaansienlike, dalk onwelriekende voete by jou bestemming laat opdaag. Dan het ʼn slaaf toegetree wie se taak dit was om gaste se voete te was.

Dit was inderdaad die geringste onder die geringstes wat dit moes verrig, in ʼn sin vernederend en onaangenaam, maar is dit as ʼn uitdrukking van gasvryheid beskou.

Jesus sluit by hierdie gewoonte aan wanneer Hy tydens daardie laaste maaltyd saam met sy dissipels die nagmaal instel. Interessant dat nie een van die dissipels aanbied om ander se voete te was nie.

Sou hulle wag dat iemand opdaag om dit te doen?

Dat Jesus die nederige taak sou onderneem was nie eers in hul verwysingsraamwerk nie.

Stel julself die verbasing en selfs ontsteltenis voor toe Hy, hul Leermeester en Rabbi daarmee begin. Ek neem Petrus glad nie kwalik dat hy die hele affêre totaal en al onaanvaarbaar vind nie.

“U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie,” verklaar Hy. “Dan het jy geen deel aan My nie,” verklaar Jesus. Die res van die verhaal is aan ons bekend.

Dan die ontknoping wat nie alleen aan die adres van die dissipels gerig word nie maar aan elke ware gelowige. Jesus het ons ʼn voorbeeld gestel. Ons moet in sy voetspore volg.

Wat beteken voete was in oordragtelike sin vandag binne jou konteks? Hoe roep die Here jou om ander te dien? Hoe voel jy daaroor?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.