ToekomsVenster: Om bevry te word

Sonneblomme in die Oos Vrystaat. (Foto: Dalene de Vente)

Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ – Matteus 22:37-39

Ons gesels oor die “ware jy” wat fokus op die essensie van jouself en nie net jou persoonlikheid nie.

Persoonlikheid is die masker, essensie wag om ontdek en bevry te word. Jy doen dit deur die reis na binne te onderneem. Net as jy tyd, aandag en selfs bronne aan die reis bestee kan jy vorder. Wil jy nie weet wie jy regtig is nie, wat God se bedoeling met jou was nie? Wil jy ontdek hoe die mens lyk van wie Hy sê: “Ek weet wat Ek vir jou beplan nie”?

Wat ons gister gesê het oor beskerming is eweneens waar van liefde en aanvaarding.

Van kleintyd af, mense se optrede teenoor ons, ervarings wat ons gehad het voordat ons woorde gehad het om dit mee te beskryf, indrukke en impulse wat op ons ingespeel het, het ons geleer dat, ten einde aanvaar en liefgehad te word, jy op ʼn sekere manier moet optree.

Jouself wees werk nie want mense hou oënskynlik nie van wie jy is nie. Derhalwe gee jy jou eie voorkeure en behoeftes prys en begin ander se belange bo jou te stel, altyd bo joune te stel.

Die applous wat jy ontvang wanneer jy soos ʼn dienende Martha optree laat jou glo dat dit die manier is om liefde en aanvaarding te kry.

Dit mag wees dat jy met alles wat in jou is sukses nastreef. Wanneer jy suksesvol is klap die mense hande en voel jy vervuld. In jouself egter voel jy eensaam en misverstaan.

Jy verstaan nie dat jy geluk nie kan uitkontrakteer nie. As jy nie vir jouself lief is nie, sal niemand anders dit doen nie. Nie soos jy dit nodig het nie.

Meer nog dit sal meermale liefde met ʼn agenda wees. Net soos jy ʼn agenda het, liefde en aanvaarding, het ander agendas, liefde en aanvaarding.

So lewe ons mekaar mis, kom die eintlike jy nooit aan die woord nie, verdedig ons met alles wat ons het wat ons geword het in stede van wie ons eintlik is.

Jy mag my redevoering ietwat vreemd ervaar maar dink ʼn bietjie daaroor na.

Die eintlike jy roep om bevry te word maar dit word onder al die bagasie, bagasie waarvoor jy waarskynlik blind is, begrawe. Jy word geroep om so volwasse soos Christus te wees. Die Seun wil jou bevry. Die meeste van ons het die bediening van bevryding nodig wat verskonings, seer, verwerping, slegte ervarings, vooroordele en vrees insluit.

Sommige vrees, ander is kwaad en ander is gekneus.

Wat voel jy moet jy doen om aanvaar te word?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.