ToekomsVenster: Om daar te wees vir kinders en jongmense

Argieffoto (Foto: Nikoline Arns/Unsplash)

Ek gesels met ʼn paar kenners, mense wat die belang van jongmense op die hart dra. My vraag is: hoe gaan dit met ons jongmense en kinders?

Die antwoord kom soos ʼn refrein. Nie goed nie.

Ons kinders kry swaar, die druk is oorweldigend en die eise wat aan hulle gestel word omvattend. Dat ons ons kinders paraat moet maak om ʼn redelik ongenaakbare wêreld te akkommodeer en te hanteer, is inderdaad so. Die lewe ontsien niemand nie. Dit vra nie na stand, kwalifikasie en selfs ouderdom nie. Sommer van kleintyd af moet ons kinders presteer en streef om die beste te wees.

Hoe kry ʼn mens al hierdie verwagtinge in balans?

Om daarna te streef om uitnemend te presteer is nie verkeerd nie, inteendeel. Wat van die teleurstelling as dit nie gebeur nie? Ouers wil graag met hul kinders spog, dit is tog nie verkeerd nie tensy dit is om onnodige kompetisie na te jaag. Spog ons steeds, al voldoen hulle nie aan al die standaarde nie?

Skole val oor mekaar se voete om die talentvolles onder ons kinders in te trek. Beurse en ander aantreklikhede word aangebied. Niemand “bie” vir die gewone outjies nie. Die verhoog kreun onder die kinders wat erekleure, balkies en erkenning kry, weereens mooi en verdienstelik. Rye en rye gewone kinders klap hande en wonder, wanneer is dit my beurt?

Ek is nie seker hoe ʼn mens hierdie goed bestuur nie, hoe ʼn mens elke kind en jongmens as ʼn gawe aan hierdie wêreld vier nie.

Die persone wat aan die bespreking deelneem, lys ʼn aantal van die behoeftes wat kinders en jongmense uitspreek. Hulle vra vir konneksie, belangstelling, rolmodelle en mentors, veilige ruimtes waarin hul hulle gedagtes kan toets.

Besoek gerus www.dinkjeug.co.za en www.kerkvandietoekoms.co.za vir uitstekende materiaal. Laai die huisgeloof-app af en soek die boek: Ontmoet die toekoms, 12 rigtingwysers. Dit is by Bybelmedia beskikbaar.

Die lewe is uitdagend, laat ons daar wees vir ons kinders en jongmense.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.