ToekomsVenster: Om die ewige lewe te behou

(Foto: @deviyahya/Unsplash)

Dít verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in. Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. – Joh. 12:24-25

Daar is onverhandelbare en noodwendige wetmatighede wat met saai en oes verband hou. Jy kan daarmee nie onderhandel, die proses omkeer of misken nie.

Om te sterf sodat dit kan lewe, is spreekwoordelik wat met die saad gebeur. Die saad lê sy lewe af terwille van die nuwe lewe wat na vore sal tree.

Jesus verwys na Homself en sy komende kruisdood as Hy by hierdie metafoor aansluit. Hy was bereid om sy lewe af te lê sodat ander die lewe kan ontvang. As Hy aan sy lewe vasgehou het was ons verlore.

Filippense vertel ons van die groot prysgawe wat Hy gemaak het. Sy hemelse heerlikheid het Hy prysgegee en die gestalte van ʼn slaaf aangeneem. Hy het onder sondaars kom woon en ʼn lewe wat heilig en Godverheerlikend daaruitsien kom demonstreer. Uiteindelik bring Hy die offer wat nodig is om vir ons die ewige lewe te verseker.

Jesus brei uit op hierdie metafoor en maak dit ook op sy volgelinge van toepassing. Daar is ʼn prys aan dissipelskap verbonde. Dit vra dat ons prioriteite dramaties verander en dat ons die Koninkryk eerste stel.

Eiebelang word op die altaar geplaas terwille van God se eer en die redding van ander mense. Mag ons die genade vind om inderdaad so onselfsugtig te lewe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.