ToekomsVenster: Om die stem van die Here te hoor

(Foto: Leon Biss/Unsplash)

“Die stem van die Here kloof die seders van die Libanon oop.” − Psalms 29:5 (AFR83)

Die Bybel is ʼn merkwaardige boek en ʼn bron van wysheid wat in ewigheid nie uitgeput sal raak nie. Soos met gister se dagstukkie, waar ons gesels het oor die belangrikheid daarvan om by die kragbron − die Hemelse kragbron − ingeskakel te bly, is die Bybel net effektief in die lewe van ʼn mens wat dit lees, daarna luister en dit ter harte neem.

So lees ek weer die gedeelte in 2 Konings 7. Ek gaan nie in die besonderhede in nie, maar die kort en die lank van die saak is dat Israel benoude oomblikke beleef. Die stad Samaria is beleer en die mense daarbinne is bestem om ʼn stadige dood te sterf. Die Arameërs het die stad omsingel en maak seker dat geen kos of water by die stad ingaan nie.

So benard en desperaat gaan dit met Israel dat onrein voedsel, al wat in geringe mate nog beskikbaar is, onbekostigbaar duur geword het. Inderdaad ʼn hartseer situasie.

Buite die stadspoort speel nog ʼn tragedie hom af. Vier melaatses sit en wonder wat van hulle gaan word.

Melaatsheid was op sigself ʼn doodsvonnis. Die vereensaming wat daarmee gepaard gegaan het was onuithoudbaar. So sit die vier vriende met mekaar en gesels. Daar is drie alternatiewe op die tafel.

Terug stad toe: wel benewens die feit dat hulle nie welkom is nie, is daar in elk geval niks om te eet nie. In die stad sterf hulle beslis.

Of bly waar hulle is en eweneens is dit ʼn situasie wat geen hoop bied nie.

Die enigste alternatief is dat hulle die laer waar die Aramese soldate tuis is binne stap en hoop om genade te vind.

Dit is om jou lewe in jou hand te neem.

Hulle is melaats en deel van die vyand. Watter kans is daar dat die Aramese soldate aan hulle genade sal bewys. Maar van die drie alternatiewe is die laaste die enigste wat ʼn klein vlammetjie van hoop bevat.

So waag hulle dit in die kamp van die soldate, net om die plek leeg te vind. God het bonatuurlik onderneem en toe die soldate ʼn groot gedruis hoor het hulle dit interpreteer as dat Israel hulp gaan soek het by ander volke en nou met ʼn groot taakmag in aantog is. Sonder om te aarsel slaan die soldate oop die vlug en los alles net so; kos, klere, wapentuig en kosbare items.

Ek dink dat wat hulle gehoor het die stem van God was wat, soos die Psalmdigter getuig, geweldig is.

“Die stem van die Here laat weerlig uitslaan. Die stem van die Here laat die woestyn bewe.” − Psalm 29:7-8

En wat het die Here gesê (reken ek) – skoert, maak dat julle wegkom.

Ek wonder of jy ook by so ʼn oomblik is?

As jy dit nie waag nie, sal jy dit nie maak nie.

Ons gesels môre verder, maar wil jy nie die implikasie van hierdie gedeelte vir jou lewe oorweeg nie?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.