ToekomsVenster: Om die vrug van die Gees te dra

wingerd

Foto: Ales Me/Unsplash.com

“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.” – Johannes 15:5 (AFR83)

Die teksvers sê Jesus is die wynstok en ons is die lote. Dis ʼn baie bekende gedeelte in die Bybel, maar dit is altyd goed dat ons weer en weer daaroor nadink.

Die “Ek is”-uitsprake dui op die Goddelikheid van Jesus. “Ek is die lig van die wêreld, Ek is die brood wat lewe gee, Ek is die Alfa en Omega, Ek is die weg na die Vader, Ek is die bron van alles wat mooi en goed is en Ek is jou Verlosser, Here en Heiland.”

Wynstok en lote is op mekaar aangewese. Die wynstok het die lote nie nodig nie, maar die omgekeerde is nie waar nie. Die lote is afhanklik van die wynstok. Wat nodig is om te groei en vrug te dra, word van die wynstok ontvang.

Die lote se verantwoordelikheid is om vrug te dra wat die wynstok komplementeer. Iewers sê die Bybel tog dat die vrug die aard van die boom bevestig. Die boom, in hierdie geval die wynstok, kan nie iets anders te voorskyn bring as dit wat in sy aard is nie.

Dié bepaalde gedeelte roep die lote verskeie kere op om in die wynstok en by die wynstok te bly. Die lote vind hul sekuriteit daarin dat hulle deel van die wynstok is.

As die wynstok gesond is maar die vrugte is van swak kwaliteit, kan die wynstok tog nie daarvoor blameer word nie. Daar is fout met die lote.

Ons is die lote aan ʼn veredelde wingerdstok, God drie-enig, Vader, Seun en Heilige Gees.

Hierdie Goddelike wynstok verteenwoordig alles wat mooi, goed, reg, edel en volmaak is. Van die lote word niks minder verwag nie.

Op hulle eie kan die lote nie vrug dra nie. Lote wat hulle onafhanklikheid van die wynstok wil verklaar, sterf. Lote wat dink dat hulle sonder die wynstok kan klaarkom, reken nie met hulle eie broosheid en voorlopigheid nie. Dooie lote het geen ander doel as om verbrand te word en as as weg gevoer te word nie.

Die vraag wat aan jou en my gestel word, is of die vrug wat ons dra verteenwoordigend is van die edele wynstok waaraan ons deel het.

Volmaaktheid sal ons in hierdie lewe altyd ontsnap, wat nie beteken dat ons nie daarna moet streef om die wynstok te komplementeer deur die vrug wat ons te voorskyn bring nie.

Galasiërs 5 herinner ons aan die vrug van die Heilige Gees teenoor die vrug van ons vorige sondige bestaan.

Die Bybel sê wie in Christus is, is ʼn nuwe mens, alles het nuut geword, die ou dinge het verbygegaan.

Wees heilig soos julle Vader wat in die hemel heilig is.

Heiligmaking is ʼn lewenslange reis. Ons moet die karakter van Jesus in hierdie wêreld vertoon.

Eenvoudige wiskunde maak twee plus twee net vier.

ʼn Belydenis dat Jesus Here is, kan niks anders as Goddelike vrug oplewer nie, anders is daar fout.

Hoe is dit gesteld met my en jou lewe?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.