ToekomsVenster: Om geestelik te groei

hoop-plantjie-groei

(Foto: Engin Akyurt/Unsplash)

As jy hierdie dinge aan die broers voorhou, sal jy ‘n goeie dienaar van Christus Jesus wees wat jouself voed met die woorde van die geloof en die goeie leer waarvan jy ‘n aanhanger geword het.  – 1 Timoteus 4:6

Wat ons geloofslewe betref is daar dié dinge wat ons nie kan doen nie maar ook dié dinge wat ons moet doen.

Ons kan ons eie saligheid nie bewerk nie. Die ewige lewe is ʼn geskenk wat God gee en is geheel en al onverdiende genade. Ja, ʼn mens moet bewus wees en word van jou afhanklikheid in die verband, maar selfs dit is vanuit Bybelse verstaan die gevolg van die Heilige Gees se werk in jou lewe.

Mens kom nie na God toe behalwe as Hy jou trek nie.

In die teologie onderskei ons verskeie elemente wat die geloofslewe betref. Die pad na God begin met roeping, intern en ekstern. God praat met ons deur sy Gees in dit wat ons sien en dit wat ons ervaar. Ons antwoord doodgewoon.

Ek dink aan die lied wat sê: “Ek het U stem gehoor wat roep na my”.

Nuut verwerk klink die woorde so:

Ek het u stem gehoor wat roep: “O kom na My!”

Ek kom na U in Jesus’ Naam dat U my kan bevry.

 

Heer, ek hoor U roep, hoor U roep na my.

En ek kom tot by die kruis waar Jesus hang vir my.

 

Dis Jesus wat my roep, dat Hy my honger stil

om naby aan sy hart te leef, soos wat my Here wil.

Dit alles is die werk van God die Heilige Gees.

Dan is daar dit wat ons moet doen, wat nie beteken dat die Heilige Gees nie ewe werksaam is in ons roeping nie.

Ek is persoonlik verantwoordelik om toe te sien dat ek geestelik groei en toeneem in my verstaan van God en sy plan vir my lewe. Dit doen ek deur erediensbywoning, tyd saam met medegelowiges, Bybelstudie en gebed, kursusse en kampe, geestelike boeke en musiek, getuienislewering en diensbaarheid.

Gelowiges het nie alleen die verantwoordelikheid om die pad van geestelike groei te stap en daarvoor te beplan en te begroot nie maar om toe te sien dat waarmee hulle gevoed word goeie geestelike voedsel is wat gerugsteun word deur die Woord en deur belydenis.

Wees skrikkerig vir nuwe openbaringe en maniere van dinge doen.

As dit nie in die Bybel is nie, wees versigtig.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.