ToekomsVenster: Om iemand se losser te wees soos Boas


koringveld-pexels-pixabay

Foto: Pexels/Pixabay.com

Lees: Rut 1-4

Raak prakties

Daar is nog iets kosbaars in Rut se verhaal… In Levitikus 19 (:9-10) lees ons dat die Here God aan Israel die opdrag gee om nie die hoeke (wenakkers) van hul landerye af te oes nie, maar dit te laat vir die armes en vreemdelinge – en dis presies wat Rut op Boas se landerye doen. Die motivering hiervoor vind ons ook in Levitikus 19 (:34): “Julle was immers self ook vreemdelinge in Egipte.” Daarom is dit vir my so vreemd dat, wanneer Jesus in Nasaret (Lukas 4) die genadejaar van die Here aankondig en dan die weduwee uit Sarfat en Naäman die Siriër as voorbeelde gebruik, sy gehoor woedend was daaroor. Het hulle dan vergeet dat hulleself vreemdelinge in Egipte was? Wat het gemaak dat hulle weer ʼn ingroeitoonnael gekry het? Vir wie almal gun jy die guns van die Here?

Iets om oor na te dink

Daar’s ʼn storie van drie swerwers wat graag hul vriend wou begrawe in die kerkhof van die dorpie waar hy grootgeword het. Die priester moes egter hul versoek weier omdat die gemeenteleiers gereken het dat hy nie ʼn gereelde besoeker was nie en die lewe van ʼn swerwer hulle nie aangestaan het nie. Die drie vriende begrawe toe hul vriend net buite die ringmuur rondom die kerkie. Toe hulle die volgende oggend hul laaste eer aan hul vriend wou gaan betoon, is sy graf weg! Doodseker dat hulle hom net buitekant die ringmuur van die kerkie begrawe het, gaan doen hulle navraag by die priester. Sy antwoord: “Die gemeenteleiers se weiering het my so gepla, ek het deur die nag die ringmuur rondom die kerkie geskuif om jul vriend se graf in te sluit.” So, hier’s die vraag: Waar en wanneer het ons vergeet dat ons ook swerwers, vreemdelinge en slawe was? En, wanneer gaan ons begin om die ringmuur rondom ons kerke te skuif sodat dit ander insluit?

Gebed

Here, jammer oor my kortsigtigheid. Dankie dat U my dikwels kom bevry van myself. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.