Lees: Jeremia 1:5 en 29:4-32
Die Here gee Jeremia as profeet aan die ballinge wat weggevoer is na Babel en daar leef hulle in sulke droewige omstandighede dat hulle geen rede tot vrolikheid het nie – Psalm 137. Jeremia se brief aan hulle is hoofsaaklik om die vals profeet, Semaja, te weerlê (29:8) en die Here se Woord en opdragte oor die ballingskap aan hulle te bring (29:4 e.v.). In die brief skryf Jeremia ʼn kragtige boodskap aan die ballinge en het dié gedeelte ʼn gunsteling-woord geword wat gelowiges met mekaar deel – vers 11: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: Voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ʼn toekoms gee, ʼn verwagting.”
Raak prakties
By watter groep of gemeenskap of individu is jy betrokke vir wie jy hierdie boodskap – soos Jeremia – in ʼn brief moet skryf, hierdie profete-woord moet bring? Skryf so ʼn brief. Stuur dit!
Iets om oor na te dink
Jeremia se naam beteken ook “Die Here werp / slinger”. In watter gemeenskap of bediening slinger Jahwe jou in? Dalk ʼn aanduiding van die impak wat daardie bediening gaan hê? Of dalk die graad van moeilikheid en swaarkry wat vir die profeet voorlê?
Gebed
Here, mag U verheerlik word in my leef en uitleef van u roeping op my lewe. Amen.
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.