ToekomsVenster: Om iemand se wonderwerk te wees soos Elia en Elisa


vreugde-geluk-kind

Foto: Dagon_/Pixabay.com

Lees: Lukas 4:19; 1 Konings 17; 2 Konings 5 en Spreuke 30:28

In Jesus se aankondiging, in die vervulling van hierdie profetiese woorde, met die koms van die Messias, is dit dié era wat aanbreek – ʼn era van Jahwe se guns!

In die harte van Jesus se toehoorders leef daar reeds lank ʼn verwagting na die koms van die Messias en nou, onder die genadelose onderdrukking van Rome, leef hierdie verwagting opnuut baie sterk in hul gemoedere. Daarom, wanneer Jesus hierdie aankondiging doen, is sy toehoorders se reaksie eintlik heel te wagte: “Almal het hul instemming met Hom betuig en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond.”

Maar die Messias sou geen nasionalistiese redder wees nie en hierdie era van guns sou geen eksklusiewe lidmaatskap vereis nie! En wanneer Jesus twee treffende voorbeelde aanhaal van die impak en die transformasie wat die guns van die Here in mense se lewens bewerk, bewys Hy juis dít! Die Messias kom vir gans die mensdom en die genadejaar van die HERE breek vir die hele mensdom aan!

Raak prakties

Dis tyd vir feesviering! Want Jahwe se genadejaar het ook vir jou aangebreek! Deel in die groep jou getuienis van hoe sy guns jou lewe aangeraak en getransformeer het.

Iets om oor na te dink

Die slawemeisie in Naäman se huis bly deur die hele verhaal naamloos, tog benut sy die geleentheid om vir Naäman se vrou van die God van Israel te vertel. Spreuke 30:24-28 vertel van vier diertjies met wysheid (28): “’n Geitjie kan jy met jou hand vang en tog kry jy hom in koninklike paleise.” Sy was die meisie in Naäman se huis; tog tree sy met wysheid op!

Gebed

Here, ek bring U my lof. Ek bring U my dank. U guns het my lewe omgedop. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.