ToekomsVenster: Om iets prys te gee

verliese

(Foto: Reint Dykema)

“Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ʼn vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe.” – Galasiërs 4:4 (AFR83)

Die hele verloop van Jesus se lewe het betekenis vir ons wat op weg is in hierdie wêreld. Kom ons dink kortliks saam met mekaar daaroor na.

Jesus kom in die “volheid van die tyd” na hierdie stukkende wêreld. Dit verteenwoordig ʼn Kairos-moment, dit is ʼn oomblik van beslissing.

Dit sny die tyd letterlik in twee. Voor Christus en na Christus.

Dit mag so wees dat baie nie erg het aan die Christelike geloof en die Evangelie nie. Dit mag wees dat sommige die relevansie en noodsaak van Jesus ontken, en onafhanklik daarvan probeer leef.

Die feitelikheid van Jesus se koms na hierdie wêreld kan egter nie ontken word nie.

Ons leef in die tydvlak na Christus. Ook as individuele gelowiges leef ons in hierdie tydvlak. Suid-Afrika en sy problematiek moet binne die konteks van hierdie werklikheid gesien word. Jesus het gekom, alles is anders, ons moet hierdie faktor toe-eien en daarvolgens leef.

Deel van Jesus se koms na die aarde is die enorme prysgawe en die offer wat daarmee gepaard gegaan het. Hy het sy Goddelike heerlikheid verruil vir die stink en stukkend van hierdie wêreld. Hy moes die troon vir ʼn tyd verruil vir die kruis. Die heelheid vir die gebrokenheid. Die vrede vir die geweld van ons eie leefwêreld.

Tog het Hy dit gewilliglik en liefdevol gedoen.

Is daar ʼn posisie wat ek en jy moet prysgee? Dit wat ons definieer, dit wat ons heimlik glo ons waardevol, kosbaar, geliefd en veilig laat voel in hierdie wêreld.

In Jesus se geval het dit alles met egte Goddelike nederigheid te doen gehad. Vir baie van ons mag dit vra om van trots en hoogmoed afstand te doen.

Hoe dikwels staan ons eie belangrikheid, ons posisie, die applous van die wêreld en die geliefd voel wat daarmee gepaard gaan, in die pad van God se plan vir ons lewens?

Jesus het sy troon prysgegee.

Is dit tyd dat ons eweneens van die troon afklim? So asof die lewe, die wêreld, ander ons iets skuld.

Die lewe vra nie toestemming nie, vra nie of jy gereed en bereid is om ʼn stuk vertwyfeling, hartseer en teleurstelling tegemoet te gaan nie.

Niemand is te goed of te sleg vir die lewe en sy uitdagings nie.

Dit gebeur met goed en sleg, ryk en arm, vernaam en gewoon, ensovoorts.

Die lewe diskrimineer nie. Vra nie na posisie nie. Is nie te koop of oop vir onderhandeling nie. Dit gebeur.

Is die troon-ervaring dalk die rede waarom ons nie in oorwinning leef nie? Ons leef in ontkenning, opstand en rebellie eerder as om te vra wat God, die Lewe self, vir ons wil leer.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.