ToekomsVenster: Om jammer te sê is die regte antwoord

(Foto: Jametlene Reskp/Unsplash)

“Selfs as hy sewe maal op ʼn dag verkeerd optree teen jou en sewe maal na jou toe terugkom en sê: ‘Ek is jammer,’ moet jy hom vergewe.” – Lukas 17:4 (AFR83)

Onlangs was minister Bheki Cele se onwilligheid om verskoning aan te bied vir sy ongevraagde woedeuitbarsting verlede jaar, groot nuus. By die geleentheid in Gugulethu het Cele Ian Cameron, van Action Society, die kop gewas en letterlik verskreeu. Ian is hardhandig deur polisielede verwyder en na buite begelei.

Dat misdaad in Suid-Afrika totaal buite beheer geraak het, word algemeen aanvaar. Meer mense sterf in Suid-Afrika as in sommige oorloggeteisterde wêrelddele. Dit plaas geweldige druk op die Suid-Afrikaanse polisiediens wat nie in alle opsigte toegerus is om die soort misdaad effektief te beheer nie. Daarbenewens word die polisie dikwels by georganiseerde misdaad betrek – ʼn hartseer werklikheid. Die vertrouensbreuk tussen die polisie en die algemene publiek is byna onoorbrugbaar.

Om onder hierdie omstandighede die amp van minister van polisie te beklee, is sekerlik baie uitdagend. Dat dit hoë eise stel aan die persoon wat hierdie amp beklee, kan ʼn mens heeltemal verstaan en selfs dat hy onder sekere omstandighede sy humeur kan verloor. Volwassenheid is egter om onmiddellik daarna verskoning aan te bied en jouself nie te verontskuldig nie.

Dit is ongelukkig nie wat hier gebeur nie. Dit is reeds meer as ʼn jaar sedert daardie ongelukkige gebeure en nou dat Cele aangesê is om die parlement verskoning aan te bied, geval dit hom nie. Dit laat ʼn mens met ernstige vrae oor sy bevoegdheid as minister.

Die vraag is egter in watter mate ons self skuldig staan wat hierdie saak betref?

Is daar mense teenoor wie ons lankal om verskoning moes gevra het vir ongevraagde optrede iewers?

Ons kan Cele nie kritiseer as ons self skuldig staan nie.

Nie dat dit op die weg van gelowiges lê om die vinger na ander mense te wys nie.

ʼn Mens kan uiteraard meer verwag van ʼn openbare figuur soos Cele, maar as ons self agter die deur staan, moet ons maar huiwerig wees om vingers te wys.

Hoe lyk dit met die “jammers” in jou lewe? Wees haastig om jammer te sê.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anton ·

Ek is jammer oor baie dinge en is vinnig om verskoning te vra maar nie vir die land wat ons in die verlede gebou het nie

OW ·

Ek stem 100% saam met jou.Hierdie land was eerste wêreld standaarde en is stelselmatig afgebreek oor 30 jaar.Daar is geen verskoning aan te bied nie.Ons Meester sal saam stem,glo my.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.