ToekomsVenster: Om Jesus te volg

voetspoor-voetspore-strand

Foto: Christopher Sardegna/Unsplash.com

Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. Wat help dit ‘n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? Wat sal ‘n mens kan gee in ruil vir sy lewe? Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.” – Markus 8:34-38

Wat is waarlik van waarde? Ons is so geneig om aan goed wat van verbygaande aard is, tydelik en stoflik is, baie waarde te heg. Daarteenoor beskou ons die onsienlike dinge van minder belang en beywer ons nie daarvoor nie.

In die stryd om soveel as moontlik bymekaar te maak en aardse sekuriteite in plek te kry verloor ons ons greep op hierdie dinge, hoe hard ons ook al probeer.

Die Bybel leer ons om eers die koninkryk van God na te jaag en dan God te vertrou om die ander dinge by te voeg. As ons die Woord net ernstig wil neem en wil glo. Dit is amper asof ons die stem van die duiwel soos ʼn Adam en Eva hoor as hy sê dat God nie regtig goeie bedoelings met ons het nie.

“God is nie betroubaar nie, is ʼn pretbederwer en wil alles net vir Homself hê”.

Die slang het mos beweer dat as Adam en Eva van die boom se vrugte eet hulle wysheid en kennis sal hê en hulle sal soos God wees. Die versoeking om soos God te wees was darem net te groot en daarom gee hulle toe aan sy suggestie. Wie sou nie? Om onafhanklik van God te wees is die wese van die sonde.

Op dieselfde wyse kom die duiwel by ons staan en moedig ons aan om die woorde van God in twyfel te trek.

Verloën, kruis opneem en agter Jesus aanloop klink darem na ʼn bykans onhaalbare opdrag. Wie kan daaraan gehoor gee? Daarteenoor eerder myself laat geld, in stede van die kruis kies vir die kroon van eiegeregtigheid en self besluit waar om te loop.

Die Bybel sê daar is ʼn pad wat reg lyk maar die uiteinde daarvan is die dood.

Miskien is die probleem dat mense hul eie lewens nie na waarde skat nie. Trouens, in Suid Afrika is lewens oor die algemeen nie veel werd nie. Die hoë insidensie van misdaad en die koelbloedige en bloedstollende padsterftes veral gedurende vakansie tye is daarvan klinkklare bewys. Dis asof mense afgestomp geraak het vir lewe.

As mense hul lewens regtig waardevol ag, nie net met betrekking tot die hier en nou nie maar met betrekking tot die ewigheid, sal hul nadink oor hul prioriteite. Enige lewensfilosofie wat God uitsluit of tot geringheid rangeer is op die verkeerde pad. “Wat sal ʼn mens gee in ruil vir sy lewe” vra Jesus.

God stel kragtens die dood en opstanding van Jesus ons in staat om ons lewens terug te neem.

Maak vandag ʼn keuse vir die lewe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.