ToekomsVenster: Om lig te bring

(Foto: Josh Boot/Unsplash)

“Om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede.” – Lukas 1:79

Om heeltyd met ʼn negatiewe saak gekonfronteer te word, is ontsenuend. Net soos ʼn mens nie van jou skaduwee ontslae raak nie, net so word jy gedurig herinner aan die bedreiging wat met ʼn saak gepaard gaan.

Dood word hier in metaforiese sin gebruik – nie in die eerste plek die fisiese dood waaraan ons almal deel het nie, maar dood in geestelike sin. Dood vanweë ons sonde slawerny en die greep wat die bose op ons het. Duisternis dus in die sin van algehele wanhoop en uitsigloosheid.

Jesus het in die volheid van die tyd gekom om die doodsbestaan van, in die eerste plek, sy eie mense aan te spreek.

Hulle wat sy verskyning moes verwag het, immers, hulle het die beloftes gehad, het desperaat en uitsigloos geraak. Met sy verskyning kon hulle in die woorde van Johannes nie onderskei dat die tyd waarop hulle gewag het en waarvan bykans elke fees getuig het, aangebreek het nie. In stede om Hom te omhels het hulle Hom aan ʼn kruishout vasgespyker.

Desnieteenstaande ego Jesus se woorde deur die eeue: “Vader, vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie”.

Ook ons wat soos wilde olyftak op die adelstok ingeënt is, ook vir ons het daar redding gekom.

Voetstappe van vrede getuig van die vrede na binne, buite en Bo. Ons het immers almal gedwaal soos skape en in vyandskap met ons Skepper geleef.

Uiteraard verwys die teks nie alleen na die geestelike dood en doodsheid wat deel van ons voor Christus bestaan geword het nie, maar ook van die fisiese dood wat ons benoud laat.

Paulus getuig egter daarvan dat die bedreiging van die dood weggeneem is en dat ons nie langer slawe van ons eie benoudheid hoef te wees nie.

Die angel van die dood is verwyder en die dood het sy greep op ons verloor. Al hierdie merkwaardig waarhede dwing ons om nuut en met verwagting te lewe.

Ons het immers van die duisternis na die lig oorgegaan.

Ons het immers van vyandskap na vrede gevorder, alles deur Christus Jesus se toedoen.

Goddank, nie langer ʼn slaaf meer nie maar ʼn kind en mede-erfgenaam saam met Christus Jesus ons Here.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.