ToekomsVenster: Om saam met Jona onder sy komkommerplant te sit


komkommerplant

Foto: WerbeFabrik/Pixabay.com

Lees: Jona 1–4

Nou, dis hier waar die wurm ʼn karakter word in Jona se storie, maar eers laat die Here ʼn komkommerplant opkom om – met sy skaduwee – Jona van sy misnoeë te red. Jona was hieroor bly! Ai, daardie eiegemak darem, daardie begaan wees net oor jouself! Maar in plaas daarvan dat daar weer ʼn groot vis opdaag, stuur die Here hierdie slag ʼn wurm en dié vreet die komkommerplant op. En ná Jona se misnoeë hieroor antwoord die Here hom: “Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie?”

Jona was nou wel die tweede slag gehoorsaam gewees aan die Here se opdrag en roeping, en ja, hy daag op en hy lewer sy prekie, maar eintlik-eintlik wou hy nie, want sê nou net die Nineviete kom tot inkeer, sê nou net die Here is genadig en barmhartig teenoor hulle … en daaraan wil Jona geen aandeel hê nie! Dis dié dat hy al aan die begin weggehardloop het … weg van die Here af, weg van Nineve af! Hy sou veel eerder net wou bystaan en kyk hoe die ramp van die Here hulle tref! En dis presies waar baie van ons se harte dikwels lê! Ons wens eerder die Here se rampe as sy genade oor mense en gemeenskappe! So, hier’s die vraag waarmee ons vanuit Jona se verhaal gekonfronteer word: Waaroor is jy begaan? Is jy oor dieselfde dinge as die Here begaan?

Iets om oor na te dink

Watter gemeenskap(pe) of individu(e) lê die Here op jou hart, maar eintlik dink jy die Here maak ʼn fout? Dalk ontdek jy dat die Here net soveel oor jou begaan is, net soveel met jou – in jou roeping – besig is as die gemeenskap of individu waarheen Hy jou geroep het.

Gebed

Here, ’skuus vir my onwilligheid en ongehoorsaamheid. ’Skuus vir my domastrantheid. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

Diens aan jou naaste en liefde vir jou naaste en die verkondiging van die Woord aan ander volke en tale is ons taak. Sonder ‘n Bybel onder die arm, is ‘n skatkis vol geskenke en mooi paai-woorde niks werd nie… mens haal dalk wel die tv-nuus se paar minute van glorie maar ons dop die toets…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.