ToekomsVenster: Om sin te maak van geloof

(Foto: Antoinette Strydom)

Want elke nuwe dag het vir my teenslae gebring en elke nuwe môre straf. – Psalms 73:14

Die Psalmdigter is gewikkel in ʼn eerlike gesprek en draai geen doekies om oor die gevoelens nie. Hy verwoord die stryd wat hy beleef om sin te maak van sy geloof. Hy begin so:

“God is vir Israel baie goed, vir dié wat rein van hart is. Tog het ek daaraan begin twyfel, ek het byna koers verloor, want ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien”. (Ps.73:1-3)

Gelowiges wonder oor twyfel.

  • Is God kwaad, hartseer of ontsteld wanneer ons twyfel en worstel om sin te maak van ons konteks?
  • Is twyfel nie die onvergeeflike sonde die teen die Heilige Gees nie?
  • Hoe kan ek myself ʼn gelowiges noem en worstel met gedagtes van twyfel?
  • Moet ek nie liewer heeltemal opgee met die geloof nie?

Dit help wanneer ʼn mens in gedagte hou dat die Bybel ʼn eerlike boek is en juis die verhaal en getuienis van gewone mense insluit, wat wys hoe hulle van die geloof sin probeer maak.

Uiteraard wil ʼn mens nie twyfel nie, nog minder oor elke ding wat gebeur in sak en as gaan sit. Dit grens aan geestelike kleinserigheid en is heeltemal onnodig. Ons moet darem streef na geestelike volwassenheid ook, nie waar nie? (Kol. 4:12)

Maar dan gebeur daar dinge wat dreig om jou geloofsvertroue te ondergrawe. Natuurlik buit die bose die geleentheid volledig uit om te sien of hy jou nie heeltemal kan laat ontspoor nie.

Dit is dan wanneer die beloftes in God se Woord jou dra en deurdra. Beloftes soos dat Hy die werk wat Hy in jou begin het sal klaarmaak, dat niks jou uit sy hande sal ruk nie, dat Hy gebede antwoord en tasbaar naby kom wanneer jy in die noute is. (Fil.1:6)

Benewens die Psalmdigter is daar talle mense wat geworstel het soos Job, Jona, Jeremia en self Jesus.

Ek weet dat God eerlikheid veel meer waardeer as geveinsdheid. Ons kan ook in ons geestelike lewe voorgee dat ons is wat nie is nie en dat ons voel wat ons nie voel nie. Hoe dom om voor te gee voor God? Sê eerder vir Hom dat jou hart breek, dat jy diep teleurgesteld is, selfs dat jy voel dat Hy jou in die steek gelaat het.

Hy verwyt nie.

Dit is worsteling met geloof, nie ongeloof nie. Dit is nie ʼn uitdrukking van ongeloof nie maar juis van geloof.

Weet dat God jou oneindig liefhet en dat niks en niemand jou van sy liefde kan vervreem nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.