ToekomsVenster: Om soos Jesus te word

(Foto: Canna Curious Club/Unsplash)

My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry. – Galasiërs 4:19

Ons is besig met ʼn “totdat” reeks as ek dit mag benoem. Vele tekste in die Bybel gebruik die woordjie “totdat”. Daarvan het ons al ʼn paar behandel en vandag is Paulus aan die woord.

Paulus skryf aan die gemeente in Galate. Hy verwys na sy eie ingesteldheid wat hierdie saak betref. Dit is asof hy in barensnood is. Dit is ongemaklik en selfs pynlik maar daar is ʼn verwagting. Nuwe lewe gaan te voorskyn kom.

Daar is ʼn belofte. Die Woord het immers nie op ʼn dooie akker geval nie. Dit is nie verstik deur die sorge van die lewe, die verleiding van die wêreld of ʼn gebrek aan deursettingsvermoë en geloof nie. Goeie grond toon die belofte van ʼn veelvoudige vrug.

Soos al die ander gemeentes worstel die gemeente in Galate ook met sommige vrae. Iewers maan Paulus die gemeente om nie die Christelike vryheid weer in te ruil op ʼn gedienstigheid aan mensgemaakte reëls nie.

Op ʼn ander plek maan hy hulle om die Gees se werking in hulle lewens toe te laat. Daar is ʼn stryd, die van die vlees en die Gees, die ou mense en die nuwe mens.

Ons roeping is om soos Jesus te word.

Wie met ons te doen het moet die geur van die lewe tot die lewe ruik, nie ʼn doodsgeur nie. Wierook wat vir God gebrand word, sê die teks iewers.

Die tydsgewrig waarin ons lewe bied ʼn unieke geleentheid om Jesus vir ander mense te wees.

Die nood is oorweldigend en lê op alle terreine van menswees.

Die pragtige gebed van Franciscus van Assisi kom by my op:

Here,

maak my ’n instrument van u vrede.

Waar daar haat is, laat my liefde bring.

 

Waar daar oortredings is, vergifnis,

waar daar twyfel is, geloof,

waar daar wanhoop is, hoop.

waar daar duisternis is, lig,

waar daar droefheid is, vreugde.

 

O, Heilige Meester, gee dat ek,

in plaas daarvan om vertroosting te soek, ander sal vertroos;

om begrip te soek, andere sal verstaan;

om liefde te soek, andere sal bemin.

 

Want dit is deur te gee, dat ek ontvang;

deur te vergewe, dat ek vergewe word.

En dit is deur te strewe,

dat ek die ewige lewe beërwe.

 

Dit klink vir my soos Jesus.

Dis wie ons wil wees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.