ToekomsVenster: Om soos ’n kind te speel

(Foto: @krakenimages/Unsplash)

“Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê: ‘Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle’.” – Markus 10:14 (AFR83)

Buitekant speel die kinders besonder luidrugtig vandag. Kinders dink mos ander sal hulle nie hoor as hulle gewoonweg praat nie. Die skril stemmetjies van seuntjies en dogtertjies sny deur die stilte.

Skool is uit en ʼn bal word energiek tussen die maatjies rondgeskop. Daar word spontaan gelag en van sorge is daar nie sprake nie. Indien wel, is dit vir hierdie oomblik totaal vergete.

Die lewe is mooi en baie groter as die effense ongemak hier en daar.

Ek sien nie dat grootmense so tekere gaan nie. Nie omdat hulle ordentlik is nie, maar omdat hulle die vrymoedigheid verloor het. Ons weet nie meer hoe om pret te hê nie, want die lewe en die eise wat dit stel, het ons lag gesteel.

Waar iemand dit nog waag om sonder pretensie uitdrukking aan sy vreugde te gee, fluister ander agter hul hande.

Kinders bekommer nie soos grootmense nie. Grootmense dra die wêreld op hul skouers soos ʼn wafferse Atlas. Dit is mos deel van verantwoordelikheid en volwasse wees, so dink ons.

“Iemand moet die lewe ernstig opneem, jy kan dit tog nie van kinders verwag nie,” sê en dink ons.

Ek wonder waarom Jesus gesê het dat die Koninkryk aan die kinders behoort. Ek dink stellig dat ʼn paar grootmense aanstoot geneem het. Wat weet kinders en wat het hulle kwansuis gedoen om die wêreld ʼn beter plek te maak, wonder hulle by hulself.

Kinders vertrou sonder om vrae te vra. As ma en pa so sê, dan is dit só. Grootmense vra vrae, baie vrae. En selfs al het God gesê, het jy steeds talle vrae daaroor.

Ek is baie lief vir kinders en geniet dit om hulle met stories oor Jesus te bedien, lewensvaardighede te leer en hul vertrouensbasis te verbreed. By Appelpark in Krugersdorp hou ʼn klompie van ons Sondagmiddae kerk vir die oulike klomp maatjies. Daarna smul hulle aan ʼn worsbroodjie en ʼn vrug, afhangend van wat die tannies saamgebring het.

Die kinders ry die toerusting wat op die speelgrond aangebring is bloots. Die rondomtalie het nie remme nie en die swaaie staan nie vir ʼn oomblik stil nie.

Ek verlang somtyds daarna om weer ʼn kind te wees, sonder ʼn dag se bekommernis.

Ek, ons, het te gou groot geword, vertroue verloor en ophou lag.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.