ToekomsVenster: Om Sy getuies te wees

gelukkig_uitgestrekte-arms_sonsopkoms_vreugde_stiltetyd_pixabay.jpg

(Foto: Pixabay)

“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” – Handelinge 1:8

Dié teks sê, julle sal my getuies wees. ’n Getuie is iemand wat met ander deel watter impak die Evangelie in sy of haar lewe gehad het. Getuienislewering is nie prekerig nie, maar prakties. Dit is nie verhewe nie, maar gewoon. Dit is nie wêreldvreemd nie, maar relevant.

ʼn Getuienis is God en jou storie verweef, inmekaar gestrengel, kosbaar en die stories kan nie losgemaak word van mekaar nie.

Getuienislewering is prakties en nie moeilik nie, juis omdat niemand van jou verwag om die dominee se werk te doen nie.

Wanneer jy getuienis lewer is jy nie besig met Bybelskool nie. Dit is ’n ander, ja, belangrike konteks, maar getuienis lewer is gewone gesels, gesels met die toestemming van die ander persoon. Mens dwing en dring nie jou getuienis aan iemand op, wat dit nie wil hoor nie. Jy vra of jy dit mag deel. Die meeste mense sal dit baie graag wil hoor maar hier en daar is daar iemand wat sê dat hy of sy nie belangstel nie. Dit sê niks van jou effektiwiteit, waardigheid, geslaagdheid of watter ander hoedanigheid ook al nie.

Al wat jy hoef te doen, is om te vertel en die res vir die Here oor te laat.

Voordat jy begin vertel het, was Hy reeds daar by die persoon, het Sy Gees, trouens nie van gister af nie, maar lank reeds begin om daardie hart op daardie ontmoeting voor te berei. Wanneer jy opdaag kan jy maar sing: “God is hier teenwoordig, laat ons biddend nader, hier waar ons voor Hom vergader”.

’n Getuienis het darem ’n bietjie struktuur, mens praat nie sommer deurmekaar nie. Jy wil tog hê dat die ander persoon die boodskap kan verstaan wat jy gedeel het. Derhalwe word ’n getuienis lekker gemaklik en informeel in drie dele verdeel; eers, toe en nou.

Hoe was dit voordat Jesus vir jou ’n werklikheid geword het. Moet tog nie met jou sonde en verkeerde dinge loop en spog nie. Ander hoef nie daarvan te weet nie. Jy kan in generiese terme daarna verwys. Iets soos: “ek het baie roekeloos gelewe en het nie veel aan God gedink nie”.

Dan kom die kairosmoment aan die beurt: “Toe gebeur daar iets”. Dit kan ʼn vertelling wees oor ’n vriend het wat jou na ’n byeenkoms genooi waar ’n gospelsanger opgetree het. Dan vertel jy wat daar gebeur het wat jou tot ander insigte gebring het.

So kom jy by die “nou” gedeelte. Pasop tog om leuens te vertel. “Nou het ek net vrede, geluk en voorspoed” is doodgewoon nie waar nie en ook nie wat die Here belowe in sy Woord nie.

Dit is eintlik eenvoudig: Ek beleef nou dat ek met enige uitdaging na die Here toe kan gaan en dat Hy na my luister.

Het jy al jou getuienis met iemand gedeel?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.