ToekomsVenster: Om te verander

(Foto: Anthony Tori/Unsplash)

Julle moet op ’n nuwe, geestelike manier leer dink. – Efes. 4:23

Om te verandering of met verandering saam te gaan is nie altyd so maklik nie, trouens, ek reken die meeste van ons vind dit nogal uitdagend. Die rede daarvoor is viervoudig.

Ons raak so gevestig in ons weë dat niks en niemand ons daarvan kan losskud nie.

Die manier waarop ons optree en die dinge wat ons sê het so deel van ons identiteit geword dat ons ontwrig en onseker voel daarsonder.

Ons doen en sê boonop die dinge wat ons doen en sê omdat dit een of ander vorm van beloning inhou, anders sou ons dit nie gedoen en gesê het nie.

Daarmee saam die groot waarheid dat die bose nie daarvan hou dat ons verander nie. Hy sus ons in ons manier van optree en verskaf handige redes daarvoor.

Uiteraard praat ons nie van kosmetiese verandering nie maar verandering wat op die Woord gegrond is. Verandering deur en op grond van die Heilige Gees se werk in ons lewe.

Dit word mos gesê dat God ons liefhet soos ons is maar dat hy ons net te lief het om ons te los soos ons is. Ons wil tog soos Jesus wees, sy karakter in hierdie wêreld openbaar. Ons wil geken word as burgers van God se Koninkryk.

Sy Koninkryk is die alternatief op die selfsug, eiebelang en onverskilligheid van hierdie wêreld.

Paulus sê dat ons op ʼn geestelike wyse moet begin dink.

Verandering begin in die denke. Gevoel en optrede vloei daaruit maar ons moet ons koppe regkry om dit sommer prontuit te stel.

My ervaring as ʼn gemeente se predikant, het my geleer dat veral verandering teenoor ons teologiese vertrekpunte bitter moeisaam is. Jy mag so grootgeword het maar jy het nie nodig om so dood te gaan nie.

Ons geloofstradisie stel ʼn hoë premie op voortdurende reformasie. Ons het oor God en sy Woord nog lank nie klaar gedink nie en sal dit in hierdie lewe ook nie kan doen nie.

Egte teologie werk met nederigheid. Ons weet nie alles nie en maak foute, soms halsstarrig in ons uitwerk van God se Woord in elke dag se lewe.

Die kerk se ondersteuning van ʼn onmenslike bestel in die verlede is tog daarvan ʼn klinkklare bewys. Min mense sal nie toegee dat ons hierin erg deur ons eie vooroordele mislei is nie.

Die kerk het daarin leiding gegee. Goddank dat ons nie in daardie moeras vasgeval het nie. Die uitdaging om voortdurend te vra wat God se beste bedoeling met my en die wêreld rondom my is, is deel van  ʼn lewenslange reis.

Waaroor het jy klaar gedink. Is jy seker?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.