ToekomsVenster: Om vir die Here te werk

(Foto: @krakenimages/Unsplash)

“Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: ‘Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle’.” – Lukas 18:16 (AFR83)

Ek wil darem net verslag doen oor die kinderpartytjie wat ons onlangs in Krugersdorp gehad het. Kinders lê my baie naby aan die hart.

Ek geniet die storie in die Bybel toe ʼn aantal mammas hul kinders na Jesus wou bring. Die dissipels het klaarblyklik gevoel dat Jesus met belangriker dinge besig is as om Homself met jillende kinders en tranerige mammas bemoei. Derhalwe wys hulle die moeders en kinders die pad nog voordat hul by Jesus kan uitkom.

Jesus bestraf hulle egter en vra of hul dan nie verstaan dat die Koninkryk van God anders werk nie. In die Koninkryk is wie laaste is eerste, wie klein is groot, en wie onbelangrik is juis die waaroor dit gaan. Hulle word aangesê om die moeders en kinders terug te roep, waarna Jesus die kinders seën.

Wanneer ek in gemeentes optree en daar kinders in die gehoor is, dramatiseer ek hierdie gebeure terwyl die kinders intens luister. Dan vra ek of hulle weet hoe Jesus kinders seën. Uiteraard daal daar ʼn stilte oor die hele gebou. Dan roep ek ʼn seuntjie en dogtertjie, na aanleiding van hul ore, en tel hul in my arms op en soen hulle hartlik, natuurlik speel, speel. Die seuntjies vee die soentjies summier af.

Dis hoe ek dink Jesus die kindertjies geseën het, sê ek dan tot groot vermaak van die hele gehoor.

Ons bedien die kinders in een van die buurte van Krugersdorp waar die inwoners sommer baie probleme en uitdagings het. Sondae word dienste gehou en kos uitgedeel. Ook gedurende die week deel mense spontaan worsbroodjies en ander lekkernye uit. Een keer per jaar word die krane oopgedraai. Springkastele en waterwurms, gesiggies word ingekleur en kulkunstenaars vermaak die opgewonde kinders. Kos en lekkers te kies en te keur.

Een groot lekkerkry.

Ai, dis aangenaam om vir die Here te werk.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.