“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!” – Jeremia 29:11
Die Israeliete wat in ballingskap in Babilonië was, was al so moedeloos dat hulle hul liere teen die bome opgehang het wat hulle wou nie meer sing nie. Toe kom Jeremia met hierdie boodskap na hulle.
Met God leer ons in die Bybel dat ‘n einde gou-gou ‘n nuwe begin word. As die dood nie meer finaal is nie, hoe kan enigiets anders dan wees? Daar is niks wat God nie in ‘n nuwe begin kan omskep nie.
As beeld van God kan ons in die verwagting leef dat terywl die oue sterf, die nuwe alreeds aan’t ontluik is. As dit by ons donker en koud is, kan ons weet dat ‘n nuwe, helder dag alreeds elders oopgebreek het.
God maak alles nuut. God vernuwe ons ook.