Soos die berge Jerusalem aan alle kante beskerm, so beskerm die Here sy volk, nou en vir altyd. – Psalm 125:2
Die bekende ou Bybelvertaling lui:
Rondom Jerusalem is berge; so is die HERE rondom sy volk van nou af tot in ewigheid.
Die ervaring van die beskerming wat die berge bied, is ʼn metafoor van die veiligheid wat die geloofsgemeenskap by God beleef. Die woorde “van alle kante” is betekenisvol. Dit is asof God se kinders die berge soos toevouende hande beleef, sagkens gedra deur ʼn ontfermende God.
Dit herinner my aan ʼn pragtige seënbede wat soms gebruik word (let op die radikale en omvattende sorg en beskerming van die Here).
Seënbede
Die Here is VOOR jou
Om die weg gelyk te maak
Die Here is LANGS jou
Om jou in sy arms toe te vou
Die Here is AGTER jou
Om die aanvalle van die Bose af te slaan
Die Here is ONDER jou
Om jou te dra as jy mag val
Die Here is RONDOM jou
Om jou te beskerm
Die Here is BOKANT jou
Om jou te seën
Die Here is BINNE jou
Om jou te lei met sy Heilige Gees
So seën die drie-enige God jou
Van nou af tot in ewigheid.
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.
Dankie vir die Woord!
Dankie ..vir GOD se almag. Amen