ToekomsVenster: Onbuigbaar en moedwillig

Foto: Juanita Badenhorst.

… van die Issaskarstam, die mense wat die tekens van die tye verstaan het en geweet het wat Israel te doen staan … – 1 Kron. 12:32

Ek steel die woordjie “soepel” by ʼn brief wat in ʼn bekende oggendblad verskyn. Effens aangepas wil ek hieroor praat: “Kom ons hou die lewe soepel”.

Soepel se teenpool is strak. Soepel beteken nie beginselloos of sonder ruggraat nie. Dit beteken nie enige iets is aanvaarbaar nie of laat Gods water maar oor Gods akker vloei nie. Dit beteken nie dat ʼn mens nie ʼn mening het en dit met liefde mag aanbied nie.

Dit is egter die teenoorgestelde van strak, onbuigbaar, onverbiddelik, sommer net dwarstrekkerig.

Mag ek my verstout om te se dat ons Afrikaanse mense somtyds effe “strakkerig” kan wees. Ons wyk nie af van die gebaande wee nie, ongeag. Die bestaande wee is legitiem solank dit oom die toets van die tyd deurstaan. Realisties gesproke verander die wêreld voortdurend en staan ons voor ʼn verpligting om met die tyd saam te beweeg en nie agter te bly nie. Die wêreld verander teen ʼn ongekende spoed maar ons wil die kerk en sy manier van dinge doen in ʼn vorm gegiet hou. Niemand moet ons sekerhede bevraagteken nie en wie dit waag word sondermeer verketter. Ons hou kerkvergadering op kerkvergadering en vorder niks nie maar stu voort.

Ek dink maar aan kerkmusiek as een voorbeeld. As jongmens kon ek nie verstaan waarom sekere liedere net op kampe gesing kan word nie maar nie in die erediens nie. Is die lewe dan nie ʼn verlengde erediens nie? Vandag handhaaf meeste gemeentes ʼn gemaklike en uitgebreide repertoire van liedere wat in die erediens gesing kan word.

Was die ink die papier werd?

Nee wat, Christene leef nie stokkerig nie. Ons het ʼn wye perspektief op die wêreld en kan sake prinsipieel verantwoord. Ons is bereid om toe te gee en ʼn ander benadering te volg as dit die beginsels van God se Woord nie geweld aandoen nie. Die grootste beginsel is uiteraard die van die liefde.

Daarvan word gesê – die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Twee belangrike sake om ook te onthou:
Die Woord is onbuigbaar en onveranderlik en sal tot in ewigheid in totaliteit tersaaklik bly.
Verder, die engele om God se troon sing “Heilig, Heilig, Heilig” en nie “liefde, liefde, liefde” nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.